Amptenare van die Weskus-rampbestuursentrum en lede van die verkeersdepartement by die leerders by Naasdrift Plaaskool.


Veiliger skole is waarna gestreef word en die Weskus-distriksmunisi­paliteit en Vredendal-polisie het onlangs saamgewerk vir dié doel.

Die rampbestuurpersoneel van die distriksmunisipaliteit (WDM) was deel van die plaaslike polisie se Safer Schools-projek. Lede van die Weskus- brand- en reddingsdienste het tydens die bewusmakingveldtog veiligheidswenke met die leerders gedeel.

Die belangrike stop-, val- en rol-tegniek, wat gevolg moet word wanneer iemand vlamvat of tydens huisbrande, is ook aan die leerders gedemonstreer. Leerders van onder meer Vergenoeg Primêr, Vredendal-Noord Primêr, Naasdrift Primêr en Plattelandskool was teenwoordig.

Benewens al die wenke wat die kinders geleer het, het hulle ook die kans gekry om met veiligheidgelukbringers Fluffy en Hopsy Copsy interaksie te hê terwyl Daantjie Kat hulle gewys het hoe om ’n voetoorgang veilig oor te steek.

Franquin Petersen, bestuurder van die rampbestuursentrum van WDM, sê ’n holistiese benadering is nodig om sukses te bereik met betrekking tot gemeenskapsveiligheid. “Die Weskus-distriksmunisipaliteit poog om deur ons gemeenskapsveiligheidsplan veiliger omgewings vir almal te skep. Die skole is ’n belangrike rolspeler en dit is uiters belangrik dat die skole deel is van ons gemeenskapveiligheidsprojekte. Soortgelyke projekte sal by ander skole reg oor die Weskus plaasvind,” het Franquin gesê.

. Skole kan die Weskus-distriksmunisipaliteit se rampbestuursentrum by gvisser@wcdm.co.za kontak as hulle soortgelyke sessies wil aanbied.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article