Die Harbour of Wellness-sentrum vir mense met gestremdhede het Dinsdag sy bestuur gekies. Die nuwe bestuur is op die organisasie se jaarvergadering verkies. Cliffie Vraagom, Johanna Mudipa, Derrick Swartz, Riaan Hendricks, Ngamla Siwiza en (voor) Maxwell Moss en Faith Filtane sê hulle is gereed vir die taak wat op hulle wag.Foto: Yaël Malgas


Harbour of Wellness in Saldanha het ’n nuwe bestuur, en dié groep sê hulle is gereed vir die taak.

Harbour of Wellness sien daagliks om na plaaslike mense met gestremdhede. Die kliënte word daagliks met projekte en programme besig gehou.

Volgens Cliffie Vraagom, die voorsitter van die bestuur, is dit gewis ’n hartsaak om deel van dié nie-winsgewende organisasie te wees.

Marlene Don, die bestuurder van die sentrum, het in haar jaarverslag van die hoogtepunte en struikelblokke uitgelig. “Ledetalle het gestyg. Ons het ses voltydse werkers, twee vrywilligers en drie interns. Ons is egter steeds onderbeman en moet kapasiteit bou, maar ons maak werk hiervan,” het sy verduidelik.

Die sentrum het ook planne om ’n volhoubare inkomstebron te bewerkstellig deur toerusting vir persoonlike beskerming te vervaardig.

Die kliënte neem onder meer branderry-lesse en verskeie vakleerlingskappe.

Gereelde inbrake by die sentrum was van die struikelblokke. Die afgelope maande is die sentrum duisende rande se toerusting kwyt. Die telefoonstelsel, WiFi-modem en rekenaars is gesteel.

Nog ’n groot probleem is die gebou wat Harbour of Wellness huisves. Die organisasie is aanvanklik gestig as die Hoedjiesbaai-sentrum vir gestremdes. Later het die organisasie deel van APD Weskus geword. Ná vele ongerymdhede, skorsings en onenigheid onder die voormalige bestuur is dit ontbind.

Die sentrum het later weggebreek van die APD en ’n tussentydse bestuur is verkies, wat mettertyd Harbour of Wellness gestig het. Dit blyk nou APD Wes-Kaap wil op die sentrum-gebou aanspraak maak.

Don, Vraagom en die sentrum-lede sê niemand kan aanspraak op die sentrum maak nie en hulle sal die sentrum nie sonder ’n geveg laat gaan nie.

Die nuwe bestuurslede sê hulle is gereed vir die uitdagings, en blydskap, wat met die Harbour of Wellness-familie gepaard gaan.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article