Mikyle Hanse van Saldanha sweef oor die doellyn vir die eerste drie tydens Vredenburg en Saldanha se derby. Vredenburg-spelers is hier te laat om die kampioen te keer, wat in die hoekie vir ’n drie oorduik. Foto: Yaël Malgas


Dit was hard, genadeloos, baie gelykop en derby-rugby op sy beste.

Vredenburg se Burg Boys het Saterdag op Saldanha-stadion besoek afgelê om hul seisoen weer momentum te gee.

Die wedstryd is egter deur die verdedigende Boland-kampioen 29-17 gewen nadat die rustydtelling 8 elk was.

Vredenburg, wat die wedstryd moes wen om nader aan die voorlopers te kruip, het gesukkel om lynstaan-besit te behou en is ook in die vaste skrums oorheers.

Die verdedigende kampioen het sy beste vir laaste gehou nadat die eerste helfte nie juis baie opwinding opgelewer het. Die twee spanne kon elk net een strafskop en onverdoelde drie behaal.

Vredenburg het met die begin van die tweede helfte sy neus met ’n strafskop vir die eerste keer voor gekry. Met beide spanne se dissipline wat lol, het die tuisspan daarna sake weer gelykgemaak.

Vredenburg, wat daarna gespeel het soos ’n span wat dalk kan verras, het egter nie rekening gehou met die kampioen se veggees nie. Saldanha het daarna ’n verdoelde drie behaal om weer voor te loop, en daarna was daar geen keer aan die verdedigende kampioen nie.

Vredenburg se Burg Boys, wat wel meer balbesit en gebiedsvoordeel geniet het, kon dit egter nie in punte omskep nie.

Die nederlaag het Vredenburg in die negende plek op die punteleer gelaat, terwyl die verdedigende kampioen gerieflik 11 punte voor is.

Langebaan het op sy tuisveld die span van Velddrif met ’n 30-15-oorwinning hard terug aarde toe gebring. Die nederlaag het ook die span uit die tweede plek gehaal, en hy is tans vierde op die punteleer. Met slegs vyf punte wat die tweede geplaaste Paternoster en die sesde geplaaste Young Hearts skei, kan die punteleer dié naweek verander.



. Volledige uitslae:


Weskus Saldanha 29-17 Vredenburg; Langebaan 30-15 Velddrif; Koringberg 33-28 Paternoster; Mamre 52-0 Piketberg; Hopefield 12-17 Young Hearts; Swartland Moorreesburg 11-37 Wesbank; Villagers Wittewater 20-40 Abbotsdale; Never Despairs 24-18 Porterville (wedstryd gestop); en Goodhopes 24-18 Riebeeck United.

. Saterdag se speelrooster:

Weskus St. Helenabaai t. Saldanha, Vredenburg t. Mamre, Piketberg t. Hopefield, Young Hearts t. Koringberg en Paternoster t. Langebaan. Velddrif – loslootjie. Swartland Abbotsdale t. Wesbank, Darling t. Riebeeck United, Never Despairs t. Goodhopes, Porterville t. Saron en Villagers Wittewater t. Moorreesburg.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article