Langebaan se eie bekroonde sjef en kookboekskrywer Isabella Niehaus het ’n internasionale toekenning ontvang.
Niehaus en Louis Jansen van Vuuren se vegan-kookboek There’s a Vegan on my Verandah het eerste plek gewen in die kategorie vir beste vegan kookboek by die Gourmand Wêreld-kookboekprystoekennings in Umea, Swede.
Die kookboek is eers benoem in die selfpublikasie-kategorie. Dit was natuurlik ’n groot teleurstelling toe hulle nie in dié kategorie wen nie, min wetend dat daar ’n groot verrassing op hulle wag.
“Om die beste vegan-kookboek kategorie te wen is ’n enorme eer. Daar was derduisende boeke wat ingeskryf is, dit was sowaar ’n eer om te wen,” vertel Niehaus.
Niehaus se boek Duinhuis: Geure en smake het ook in 2021 ’n Gourmand-toekenning gekry vir beste kookboek in die onthaal-kategorie.
Sy glo die sukses agter die vegan- kookboek is die feit dat hulle self gepubliseer het.
“Ek en Louis, wat nie net ’n goeie vriend vir jare is nie, maar ook ’n wonderlike internasionaal erkende kunstenaar, kon self besluit oor presies hoe die boek moet lyk. Ek glo werklik hoe ons alles saamgestel het, het die boek op ’n internasionale platform geplaas.”
Niehaus bedank almal wat betrokke was by die boek en hulle bygestaan het.





