Internasionale tafeltennis-skeidsregter Danritch Booysen van Vanrhynsdorp.


Die Weskus het onlangs sy eerste internasionale geakkrediteerde tafeltennis-skeidsregter gekry.

Danritch Booysen (30) het op 30 September 2022 die aanlyn skeidregters­eksamen van die Internasionale Tafeltennis Federasie (ITTF) voltooi. Met ’n slaagsyfer van 78% het Booysen nou die Weskus se eerste internasionale tafeltennis-skeidsregter geword.

Booysen is reeds jare lank by tafeltennis betrokke.

Hy het in 2012 by die Vanrhynsdorp-tafeltennisklub in sy tuisdorp aangesluit en onder die leiding van Denvan Bocks en Johan Valentyn het hy hier uitgeblink.

“Hier het ek, met die hulp van bogenoemde lede, die nodige vaardighede bekom en later as hulpafrigter en skeidsregter van die klub opgetree,” vertel hy.

Later, in 2015, is die Weskus Tafeltennis-federasie gestig en Booysen is as sekretaris gekies. Hy was ook ’n tegniese beampte.

Danksy sy opleiding en passie vir die sport het Booysen sedertdien as skeidsregter by elke ligawedstryd van die Weskus-federasie as toernooiskeidsregter opgetree.

Booysen se internasionale prestasie kom ná vele uitblink-oomblikke in die sport. In 2018 het hy die Weskus sowel as die Wes-Kaap by die Suid-Afrikaanse topskolekampioenskap in Johannesburg verteenwoordig. ’n Jaar later was hy toernooiskeidsregter by die Wes-Kaapse skoleproewe in Belhar en later daardie jaar was hy ook skeidsregter by die nasionale topskolekampioenskap in Pretoria.

Dis egter nie net op die nasionale platform waar Booysen gewerk het nie. Tydens die Weskus Tafeltennis-ope in Junie 2019 was hy ook hulpafrigter.

“Ek wil graag die streek help om tussen 2023-’24 sowat 24 klubs te stig. Dit is ook vir my belangrik om te sien die streek lewer distrikskeidsregters op en twee nasionale skeidsregters van wie een beslis van die skoner geslag moet wees.”

Wat sy persoonlike doelwitte vir die jaar betref, het Booysen reeds ’n goeie begin gehad met sy deelname aan die World Table Tennis Contender in Durban waar hy tussen 10 en 15 Januarie as internasionale skeidsregter gedien het.

“Ek het goeie ervaring hier opgedoen en baie geleer by mede-internasionale skeidsregters van Suid-Afrika, Algerië, Botswana, Lesotho, Italië en Pole.

“Ek het ook baie geleer van die toernooiskeidsregter, Constantina Crotta, en die hulptoernooiskeidsregters Genevieve Lentz en Rodrique Volkwyn.

“Ons as skeidsregters is ook dopgehou en deur Katja Brandt geëvalueer. Dit was ’n goeie leerskool,” meen Booysen. Op sy besigste dag by die toernooi was hy skeidsregter van 10 wedstryde. Spel is gewoonlik tussen 5-10 minute lank.

’n Hoogtepunt van vanjaar se tafeltennis-kalender is die wêreldbeker wat in Mei in Durban plaasvind.

Booysen sê dit sal ’n massiewe prestasie vir hom – ’n seun van Vanrhynsdorp, Matzikama en die Weskus-distrik – wees om sy land by dié internasionale sportbyeenkoms te verteenwoordig.

Booysen wil almal bedank wat vir hom gebid, gehelp, ondersteun en geleenthede geskep het. Dié groep sluit in die SA Tafeltennisraad, departement van sport en kultuursake, SA Skole Tafeltennisraad, Wes-Kaap Tafeltennisfederasie, Weskus Distrik Sportraad, Wes-Kaap Skole Tafeltennis, Weskus Skole Tafeltennis, Weskus Tafeltennisfederasie, Matzikama-munisipaliteit en Check-In Vanrhynsdorp, asook Vanrhynsdorp Tafeltennisklub.

“Ook al my familie, vriende en gemeenskapslede plaaslik en in die groter Kaapstad. Baie dankie. Ek waardeer julle opreg! Kom ons hou aan om hoop te skep vir ons talentvolle kinders, jeugdiges en bejaardes van Suid-Afrika, sodat almal sukses in hierdie lewe kan bereik,” sê hy.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 12 March 2026
    Weslander E-Edition – 12 March 2026

Gift this article