Die gemeenskap van Vanrhynsdorp is in rou gedompel ná die grusame botsing waarin 11 mense hul lewe verloor het.

Volgens die polisiewoordvoerder AO Joseph Swartbooi het die botsing tussen twee voertuie op Sondag 17 Maart omstreeks 20:20 op die N7 tussen Klawer en Vanrhynsdorp plaasgevind.

“Met die aankoms van die Klawer-polisie op die toneel het hulle twee voertuie teëgekom wat in ’n botsing betrokke was. By verdere ondersoek het hulle op ses mans en vyf vroue afgekom wat noodlottige beserings opgedoen het. Die elf slagoffers is deur die mediese personeel op die toneel dood verklaar,” sê Swartbooi. Drie kinders was onder die 11 oorledenes.

Swartbooi voeg by dat een ongeïdentifiseerde vrou, wat ernstige beserings opgedoen het, na ’n nabygeleë hospitaal geneem is.

Op sosiale media het mense en inwoners hul medelye gedeel en hul simpatie betuig met die families van die betrokkenes. In ’n video vertel Elton Jenner, ’n inwoner van die dorp en woordvoerder namens drie van die families wat geliefdes verloor het, dat die nuus Vanrhynsdorp tot stilte geruk het. “Die atmosfeer van die dood is nog merkbaar en die stilte is oorverdowend,” het Jenner gesê.

Swartbooi voeg by dat die Klawer-polisie ’n saak van strafbare manslag ondersoek.

“Ons doen ’n beroep op enigiemand met inligting of wat die voorval gesien het, om asseblief Crime Stop by 08600 10111 te skakel.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article