Weens die diefstal van die Vredenburg-gholfklub se pomp, kon die setperke, soos dié een waarop Pottie Potgieter, klubbestuurder, en Alan Durant, klubkaptein, staan, nie meer besproei word nie. Dit is een van vele voorvalle van diefstal en vandalisme waaronder die eens spogklub gebuk gaan. Foto: Alida Buckle


Die uitstalkas waar gholftrofeë en klubaandenkings eens gepryk het, staan dolleeg; die vensters waar inbrekers die hoeveelste keer diefwering gebuig het om in te breek, net tydelik toegemaak. 

’n Maand gelede was hulle reg om die sleutels van die Vredenburg-gholfbaan aan die Saldanhabaai-munisipaliteit te oorhandig en boedel oor te gee, want ná jare van sukkel met ongekende en deurlopende – byna daaglikse – vandalisme, diefstal en verlede jaar selfs ’n moord, was Pottie Potgieter, dekades al komiteelid, voormalige klubkaptein en president en tydelike klubbestuurder, en Alan Durant, die klubkaptein, se moed behoorlik gebreek.

Eens in die toptien van gholfbane in die Wes-Kaap is daar nou net droë setperke oor, wat ’n mens aan soutpanne herinner.

Diewe het in November verlede jaar die pompkamer se baksteenmuur oopgebreek en die pompstelsel en filters gesteel, wat die gholfbaan sonder besproeiing gelaat het. Hulle het selfs ’n klep wat keer dat die rioolwater na die aangrensende rioolwerke terugspoel, uitgebreek en weggedra.

Die gholfbaan word natgelei met gesuiwerde rioolwater van die rioolwerke af. As die water nie na die gholfbaan gepomp word nie, sal die rioolplaas se suiweringsaanleg oorstroom.

Pottie Potgieter in die leë pompkamer waarvan een muur oopgebreek en die dak oopgebuig is om die pomp met al sy toebehore te steel.Foto: Alida Buckle

Op die oomblik ry die munisipaliteit daagliks 50 liter diesel aan na ’n mobiele pomp om die baan in werksure te besproei. Om die gras- en setperke te herstel, sal dit egter dag en nag besproei moet word.

Daar is nie ’n gebou op dié perseel, wat ook aan die stortingsterrein grens, wat ten spyte van diefwering en veiligheidshekke nog nie verniel is nie. Tot die trekkertoebehore, setperkvlaggies, sproeiers, tuinslange en plastiekdromme is al gesteel.

Volgens Durant slaan die misdadigers dít wat hulle nie na waarde ag of kan verkoop nie, stukkend. “Dit is om van te huil,” meen Potgieter. “Die gholfbaan was ’n groot bate vir ons dorp.

“Ek vra elke dag vir genade, maar dit is moeilik as ’n mens in die oggend hier kom en al die goed lê oor die vloer gestrooi,” meen Potgieter, wat as vrywilliger diens doen.

Verskeie gholfdae moes reeds vanjaar uitgestel word.

So moet die gholfkarretjies, batterye en enigiets van waarde snags binne die klubhuis toegesluit word, want die stoorkamers se deure is al voos gebuig en gebreek. Gereelde diefstal van koperdraad laat die perseel ook gereeld sonder krag.

Ruite word gereeld gebreek en diefwering oopgebuig om toegang tot die klubhuis te verkry.

Dan is daar ook die kleinboere se beeste en varke wat gereeld op die gholfbaan beland en die setperke vertrap en verniel. Volgens Potgieter neem dit minstens ’n maand om ’n vernielde setperk weer op standaard te kry. Elke platgetrapte hoefmerk moet uitgehaal, opgevul en weer besaai word.

Houtdiewe kom saag snags bome af, steel net die stamme en los die fyner takke. Behalwe dat die hope droë takke onooglik is, skep dit ’n brandgevaar.

“Teen die tempo wat die bome gesteel word, gaan daar binnekort geen boom op die gholfbaan oor wees nie. Dit beïnvloed die moeilikheidsgraad van die spel en die gradering van die baan soos wat gholfreëls bepaal,” verduidelik Potgieter.

Omheining vir die perseel beteken die oprig van ’n ongeveer 12 km lange heining, maar Potgieter meen dat enige soort heining in elke geval stuk-stuk weggedra sal word.

Potgieter en Durant is dit eens dat sonder die hand van ondersteuning wat die munisipaliteit in Januarie na hulle uitgesteek het, hulle nie met die gholfklub sou kon voortgaan nie.

Ockie Schoeman, die klubpresident, en die klubkomitee het onlangs met die munisipaliteit beraadslaag, waar ooreengekom is dat die munisipaliteit die pompstelsel sal herstel, ’n betondak op die pompkamer gaan bou, dit omhein en snags twee wagte daar sal plaas.

Volgens Ethne Lawrence, munisipale woordvoerder, verleen die munisipaliteit hulp met die instandhouding van die geriewe in samewerking met die klub omdat dit een van die munisipaliteit se sportgeriewe is. Die munisipaliteit koop volgens Potgieter en Durant boonop kunsmis aan en betaal die personeel van vyf se salarisse.

Die huidige setperkwagter (greenkeeper), Herman Papier, se ouers was jare lank staatmakers by die klub: Sakkie Papier as setperkwagter en sy vrou, Liesbet, in beheer van die kombuis, of eerder die “halfweghuis”.

Die vernielsugtigheid kan gesien word in die afbreek van die klubhuis se badkamergeriewe.

Die Vredenburg-gholfklub bestaan sedert 1964. Gholfgeesdriftiges, vismaatskappye, die weermag en die SAS Saldanha het gehelp om dit te vestig. In 1986 is besluit om die baan van die eerste perseel by die Militêre Akademie in Saldanha na die huidige perseel te skuif. Teen Oktober 1989 was ses setperke voltooi, op 28 Oktober 1989 het die klub sy eerste Saterdagkompetisie aangebied, en die klubhuis het in 1990 geopen.

Van die inwoners wat gehelp het om die baan uit te bou, was Bertus Valentyn, die Van Dyk-broers Bokkie, Billy en Deon, Archie Grimwood, Charles Hutchinson, Alan Carnegie, Tony Petter-Bovyer, Piet Schreuder, Steve Borstlap, Jimmy Cook, Deon Olivier, “Piet Holvlei” Loubser en dr. Wynand Malan. Dr. Neels Steyn, ’n voormalige Vredenburgse tandarts en oudpresident van die gholfklub, wat diep spore as president van beide die Boland-gholfunie en die SA Gholfvereniging getrap het, “sal in sy graf omdraai”, meen Potgieter.

Die klub se uitblinkers was André Van Dyk (klubkampioen van 2000-2010, Bolandkleure, Suid-Afrikaanse senior kleure); Arrie Louw (huidige klubkampioen, senior Bolandspeler); en Morné Zurnamer (naaswenner by die SA Langslaankompetisie).

Die gholfbaan was bekend vir toernooie soos die Weskus Ope-kampioenskap en sakeondernemings, verenigings, skole en welsynsorganisasies se geldinsamelingsprojekte.

Die hartseerste vir Potgieter en Durant is die klub se ledetal wat vanjaar tot 30 gedaal het. “Ons het nie ’n inkomste nie, want mense kan nie meer kom speel nie.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article