Die lewe van ’n solokunstenaar . . .
Dít is die rigting wat Lettitia Nel (24) nou inslaan.
Lettitia, wat op haar oorspronklike verhoognaam, Tiezzy, bekend is, het haar musiekloopbaan reeds in haar hoërskooljare begin.
Sy het vir ’n rukkie nie musiek gemaak nie, maar het sterk teruggekom en haar van nuuts af onder haar nuwe verhoognaam, Tittia, aan die musiekbedryf bekend gestel.
Tittia vertel haar liefde vir musiek het soos baie ander op ’n jong ouderdom begin.
Aangesien haar familie ook lief is vir musiek en almal pal om haar, is dit geen wonder dat dié jong sangeres ’n passie vir musiek het nie.
Sy het by die platemaatskappy Spoeg aangesluit voordat sy die nuwe avontuur as solomusiekkunstenaar in samewerking met die musiekvervaardiger D-Low van Wavy Entertainment aangedurf het.
Hoewel die pad as solokunstenaar wel uitdagings het, het Tittia nie gras onder haar voete laat groei nie. Sy stel haar heel eerste Extended Play (EP) met die naam “4 letter word” op 4 Februarie in die maand van liefde vry.
Tittia sê die soort genre wat mense van haar musiek kan verwag is R&B.
“Die inspirasie vir die liedjies is eenvoudig – ek is dol oor die liefde, en dis wat mense sal hoor. Die liedjies sal mense aan daai eerste liefde en die beginstadium van liefde herinner,” brei sy uit.”
Vir Tittia was die lekkerste gedeelte van die ervaring dat sy al haar liedjies vooruit kon skryf, wat die proses makliker gemaak het.
Sy sien uit na wat haar loopbaan as solomusiekkunstenaar sal bied en moedig ander ook aan om voluit te gaan vir die dinge wat hulle in die lewe wil bereik.





