Die Langebaanse kunstenaar Dawie du Toit het van kleins af homself in die kreatiewe wêreld verloor.
Gebore in Potchefstroom het hy van jongs af gekrabbel. “Ek weet nie of ’n mens dit teken kon noem nie,” vertel hy. “Ek het nog ’n boek waarin ek voor skool leer skryf het. Dis vol tekeninge, en op elke tweede bladsy ’n tekening van ’n vark. Of dit inspirasie was weet ek ook nie, maar ek dink as ’n mens op ’n plaas grootword, is jou sintuie meer ingestel op die natuur en die voorwerpe in die natuur en die landskap.”
Du Toit se kuns wissel van natuurtonele en landskappe tot blomme, stillewes, vrugte, en baie bome. Om hierdie kunswerke te maak, maak hy gebruik van akriel en soms ook waterverf en pastel. “Ek dink ek is te ongeduldig vir olieverf omdat dit heelwat langer vat om droog te word.”
Wat die kunstenaar se storie nog meer interessant maak, is die feit dat hy uit ’n drama- en joernalistieke agtergrond kom voordat hy redelik voltyds in 2014 begin skilder het. Volgens Du Toit is elke skildery wat hy maak vir hom suksesvol.
“Iets waarmee jy self tevrede is, en wat tot ’n breër gehoor spreek, is ’n hoogtepunt. Elke uitstalling waarop jy iets verkoop is ’n hoogtepunt omdat mense daarvan hou, dis baie bevredigend. Nog ’n hoogtepunt is die feit dat van my werk in private versamelings oor die wêreld heen is.”
Wanneer dit kom by watter een van sy kunswerke Du Toit die meeste van hou, is dit ’n moeilike vraag om te antwoord. “Twee waarvoor ek ’n sagte plekkie het, is die Maksi-granate en die Bloekombos. Die granate oor die kleur, die uitbundigheid, die vrugbaarheid, dit is ook ’n goeie voorbeeld van my tegniek.”
Vir Du Toit bly kuns ’n heerlike stokperdjie wat hom oneindig baie plesier verskaf.
“Ek hoop ek kan nog lank daarmee aanhou en ander se lewe daardeur verryk.”
Sy raad aan kunstenaars: “Volg jou drome en moenie opgee nie. Daar bestaan soveel voorbeelde van regtig minderbevoorregte en agtergeblewe jongmense wat op vele terreine bo uitgekom het. As jy wil skep en jou emosies uitdruk, doen dit met oorgawe en harde werk.
Du Toit se kunswerke word tans in die Brickwall-galery in Hopefield en by die Art@39 in Grootbrak uitgestal. Sy kuns sal ook van Saterdag 20 Augustus by die Segulah-uitstalling in Langebaan te sien wees.
Sou jy meer van Du Toit se kunswerke wil weet, kontak hom gerus by 083 450 0430 of stuur e-pos na toktokkie8000@hotmail.com.





