Vir verskeie oud-valskermsoldate wat aan die Weskus afgetree is, soos met hul tydgenote en bestaande lede van die 1 Valskerm-bataljon in Bloemfontein, is 1 April ‘n dag van herdenking.
Die bataljon is op 1 April 1961 in Bloemfontein gestig om jong mans as valskermsoldate op te lei.
Volgens James de Jager van Britanniabaai is 15 gekeurde weermaglede onder bevel van kommandant Willem Petrus Louw vooraf in Engeland as valskerm-instrukteurs opgelei.
“Sedert April 1961 is duisende jong mans met strawwe opleiding as valskermsoldate opgelei om as deel van die weermag in die grensoorlog en elders te dien.”
Volgens De Jager het die parabats baie keer onder moeilike omstandighede bewys waarom hulle gevrees was. Baie valskermsoldate het egter in verskeie oorloë vir hul land gesterf.
Die eerste vliegtuig wat opgebou is om valskermsoldate mee neer te laat, was die Dakota 6878. Kapt. Daantjie Lombaard was een van die eerstes wat as valskermvlieënier in Engeland opgelei is.
Dit is vir De Jager belangrik dat komende Dinsdag (1 April) onder oud- en nuwe valskermsoldate herdenk sal word uit dankbaarheid en erkenning “vir die pad wat ons saam gestap het”.




