Die Valke het op Dinsdag 11 Julie sewe Weskussers onder wie lede van dieselfde familie in hegtenis geneem weens bedrog van meer as R6 miljoen.

Willem Klaase (67), Martha Klaase (71), Marga Klaase (43), Wilbur Klaase (44), Alberto Klaase (39), Brian Phillipus (43) en Elton Smith (42) is op Laaiplek, Vredenburg en Saldanha in hegtenis geneem.

Volgens lt.kol. Siyabulela Vukubi, woordvoerder van die Valke, spruit die inhegtenisneming van die verdagtes uit ’n intelligensie-gedrewe optrede wat gelyktydig in die Weskus-dorpe uitgevoer is.

Die verdagtes het Woensdagoggend 12 Julie in die Laaiplek-landdroshof verskyn op aanklagte van bedrog. Hulle was almal trustees van die “Welbeloon-plaastrust” wat na bewering op ’n onregmatige wyse geld by die Departement van Grondsake bekom het.

Vukubi het gesê dat Willem Klaase gedurende November 2007 tot Oktober 2008 ’n sakeplan by die departement in Clanwilliam ingedien het om vir ’n “grondherverdeling vir landbou-ontwikkelingstoekenning” van die departement te kwalifiseer. Dit is in die naam van die Willem Klaase-projek: Welbeloon Boerdery Trust gedoen.

Hiervolgens sou ’n gedeelte van die toelae gebruik word om Gedeelte ses van die Pampoenkraal-plaas in die Piketberg-gebied te koop.

Die departement se kwalifiserende kriteria vir die toelae behels dat dié soort toekenning onder andere pensioenarisse, die jeug en werklose mense moet begunstig. Die kriteria gelas ook dat nie een van die begunstigdes permanent in diens van ’n ander maatskappy mag wees nie.

Vukubi het gesê die ondersoek het aan die lig gebring dat al sewe verdagtes by staatsbeheerde entiteite in diens was, daarom moes die toelae nooit toegeken gewees het nie.

Vyf van die verdagtes werk steeds by Transnet, een is ’n oud-onderwyser en een het by Transnet gewerk. Hulle is egter in die wanvoorstelling as begunstigdes én trustees van die Welbeloon-trust aangedui, hoewel almal op daardie tydstip salarisse van elders ontvang het.

Slegs die sewe trustees het by die toelae baat gevind en sommige begunstigdes volgens die sakeplan was nie eens bewus daarvan dat hulle vir ’n toelae kwalifiseer nie. Die departement het hiermee ’n verlies van meer as R6 miljoen gely.

Die verdagtes is borgtog van R3 000 elk toegestaan en die saak is tot 24 Julie uitgestel, wanneer die saak die eerste keer in die Bellville Gespesialiseerde Handelsmisdaadhof sal voorkom.

Genl.Maj. Matipa Makgato, provinsiale hoof van die Direktoraat vir Prioriteitsmisdaadondersoek in die Wes-Kaap, het die polisiebeamptes toegejuig en benadruk dat die Valke sal poog om korrupte aktiwiteite in die provinsie uit te roei.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article