Ná ’n uitstekende jaar van potspel, wat die SA kampioenskap in Saldanha ingesluit het, het Weskus Pool Saterdag teruggekyk op die afgelope jaar se prestasies.
Weskus Pool het die afgelope naweek sy jaarvergadering sowel as sy prysuitdeling vir 2022 by die St. Helenabaai-hotel gehou.
Die bestuur het elke speler vir hul toewyding die afgelope jaar bedank en gesê vanjaar gaan selfs nog beter wees.
Die groot plaaslike wenners van die jaar was onder meer die Undertakers (A-liga) en Dare Devils (B-liga). Die topvrouespeler van die jaar was Inelda Heyns, wat saam met Madré Olivier ook die vrouedubbelswenners was.
Gert Hibbert het oudergewoonte uitgeblink en is as die beste ope-enkelspel-speler en meestersenkelspel-speler aangewys. Hy, saam met spanmaat Johan Basson, was ook een helfte van die meesterdubbelswenners.
Gerrit Botha en Ettienne Roberts was die opedubbelswenners en die beste gemengde dubbelspaar was Madré Olivier en André van Vuuren.
Van Vuuren was ook die speler wat volgens Weskus Pool die afgelope jaar die meeste verbeter het.
Die senior enkelspelwenner was Gerald McMaster, terwyl Deslin van Niekerk en Hein van Staden die senior dubbelswenners was.
Die junior speler van die jaar was Liam Church.
André van Vuuren, Sean Yuill, Gert Hibbert, Gerrit Botha, Hein van Staden, Deslin van Niekerk, Jaundré Rabie, Mark de Jager; Arnold Olivier en Ettienne Roberts het die A-liga se top-10-spelers opgemaak.
In die B-liga was dit Storm Oosthuizen, Labeeb Arendse, Zander Dicks, Devon van Antwerpen, Morné Claasen, Eduard Roder, Jason Stevens, Henkie Hansen, Heinro Swiegers en Teneke Snyman wat uitgeblink het.. Enigiemand wat graag by Weskus Pool wil aansluit of meer wil weet, kan Gert Hibbert by 083 287 6833 of Inelda Heyns by 066 034 5751 bel.





