Elke jaar kom Valentynsdag met rose, sjokolade en groot verklarings van liefde. Winkels skree dit uit, sosiale media wys dit blink en perfek, en tog sit baie mense op 14 Februarie met ‘n stil vraag in hul hart: Is dit regtig liefde? Of is dit net ‘n oomblik?
Miskien is die groter vraag nie wie het iemand nie, maar eerder wie is liefde werklik?
Liefde is ‘n woord wat maklik gebruik word, maar selde diep verstaan word. Ons sê ons is geduldig, verdraagsaam, nie jaloers nie.
Ons praat van hoop, van goed doen, van bly glo. Maar wanneer seerkry kom, wanneer iemand jou agterlaat, wanneer teleurstelling jou tref, waarheen gaan liefde dan? Verdwyn dit? Of wys dit sy ware aard?
Vir baie mense voel liefde soms soos pyn. Dit maak seer op maniere waarvoor daar geen medikasie is nie.
Dit laat jou twyfel, dit laat jou vra of dit nie makliker is om eerder ‘n afstand te hou nie. Geen wonder dat party mense liefde vermy nie, want om lief te hê, is om kwesbaar te wees.
En tog, die mensdom ken liefde. Almal het dit al ontmoet. Party ken dit goed. Ander soek dit nog. Want diep binne-in elke mens is daar ‘n verlange om gesien, aanvaar en vasgehou te word.
Die ironie is dat liefde nie eerste by ons begin het nie.
Volgens 1 Korintiërs 13 is liefde nie bloot ‘n gevoel of ‘n romantiese gebaar nie.
Liefde is geduldig. Liefde is vriendelik. Liefde hou aan glo, hou aan hoop, bly volhard. En hierdie liefde het ‘n naam. Dit is nie net iets wat ons doen nie, dit is iemand wat is.
Liefde sê: Ek was eerste hier. Ek wag vir jou. Ek is die fondasie.
Wanneer liefde só verstaan word, verander Valentynsdag se betekenis.
Dan gaan dit nie meer oor ‘n roos vir een dag nie, maar oor ‘n lewenswyse. Dan word liefde iets wat hande vat, wat vergewe, wat vir ander geluk gun sonder afgunstigheid. Dan word dit iets wat nie net verskyn wanneer dit maklik is nie, maar bly selfs wanneer dit seermaak.
Miskien bou ons die lewe te min op liefde omdat ons dit te klein definieer. Want ware liefde vra oorgawe, geloof en hoop. Want die Skrif sê tog: Die grootste hiervan is die liefde.
Wees die liefde soos wat dit in God se Woord verskyn. Nie net op Valentynsdag nie, maar elke dag.



