Inwoners het Sondag 5 Augustus afgekom op die naakte liggaam van nóg ’n vrou van Saldanha wat gewelddadig vermoor is.

Mirriam Cloete (43) se liggaam is omstreeks 08:00 agter ’n plakkershokkie in Govan Mbekistraat in Middelpos gekry.

Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n woordvoerder vir die Weskus-polisiedistrik, het Cloete krapmerke aan haar linkeroor en nek gehad.

’n Geregtelike nadoodse ondersoek is geopen en die lykskouing sal bepaal presies hoe sy vermoor is.

In ’n soortgelyke voorval is Donderdag 18 Mei op die halfnaakte lyk van Fillda Patricia Vaughan (34) op die strand by Tabakbaai by Diazville afgekom.

Luidens die uitslag van die lykskouing is sy verwurg.

Niemand is nog in verband met dié moordsaak in hegtenis geneem nie, hoewel iemand van belang ondervra is.

In Vaughan se geval moes familie en vriende via ’n uiters onsensitiewe video wat omstanders van haar halfbedekte lyk gemaak en op sosiale media versprei het, van haar dood uitvind.

Helfrich het vroeër daarop gewys dat Vaughan benewens veelvuldige beserings ook ’n bytmerk van ’n mens aan haar skouer gehad het.

Vriende, familie en die gemeenskap van Diazville is al vuisvoos ná verskeie onnatuurlike sterftes die afgelope tyd.

Cloete, ’n ma van Diazville, “het nie verdien om so wreed te sterf nie”, skryf Wilfred Boois-Cloete, ’n familielid op Facebook. Hy benadruk indien hy geweet het dat verlede Saterdag die laaste keer sou wees dat hy Cloete sien, hy meer tyd saam met haar sou deurgebring het.

Die familie was teen Weslander se vervroegde saktyd hierdie week nog besig met reëlings en kon nog nie kommentaar oor die voorval lewer nie.

Cloete se begrafnis word volgende week gehou.. Enigiemand met meer inligting oor die moord word versoek om met sers. Nhlakanipho Gumbi by 062 106 9956 in verbinding te tree.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article