Carmen GouwsFoto’s: Facebook


Die voortslepende kultuur van geweld teenoor vroue aan die Weskus het die afgelope naweek op die dood van nóg twee vroue uitgeloop.

Die vermeende moordenaar van ’n vrou van Lutzville het die dag voor haar 21ste verjaarsdag glo ’n boodskap aan haar familie gestuur waarin hy aangedui het dat hy vir hulle ’n “geskenk” gaan gee.

Carmen Gouws se lyk is op haar verjaarsdag, Saterdagoggend 7 Oktober, op die plaas Flentersvlei naby die dorp gekry, met onder meer ’n bylwond aan haar kop. Sy is vermoedelik ook verkrag.

Kapt. Tania Helfrich, woordvoerder van die Weskus-polisiedistrik, het gesê Gouws se gewese kêrel, Calvin Cloete (37), is weens haar moord aangekeer. Hy het met sy inhegtenisneming beweer hy en Gouws was aan die stry toe hy haar met ’n byl teen die kop gekap het.

Gouws is op die plek dood.

Volgens Helfrich het Cloete reeds ’n misdaadrekord vir geweldsmisdade en was hy in die tronk omdat hy Gouws reeds ’n vorige keer aangerand en met ’n mes gesteek het.

Hy het Maandag (9 Oktober) in die Lutzville-landdroshof verskyn, waar die saak tot Maandag 16 Oktober uitgestel is.

Nét die vorige dag op Vredendal (Vrydag 6 Oktober) het geskokte lede van die gemeenskap omstreeks 16:50 op die lyk van ’n vermoorde vrou afgekom.

Volgens Helfrich is Nadine Klaase (40) se lyk in ’n tydelike geboutjie langs haar ma se huis in Mangaungstraat, Vredendal-Noord, gekry. Sy was nog ten volle geklee met ’n blou skoenveter styf om haar nek.

Helfrich het gesê haar regteroog was geswel en daar was merke aan haar gesig. ’n Toegevoude, bebloede mat is langs haar gekry.

Martin Muller (20), vermoedelik haar kêrel, is weens haar moord in hegtenis geneem en het Maandag (9 Oktober) in die Vredendal-landdroshof verskyn. Muller, wat al vele kere met die gereg gebots het, is op 18-jarige ouderdom die eerste keer aan aanranding en ook ’n aanklag van diefstal uit ’n motorvoertuig skuldig bevind.

In die geval van Gouws het haar familie en vriende aan die Cape Argus gesê Cloete het glo al vandat sy in gr. 8 was, ’n obsessie oor Gouws gehad. Met Cloete se vrylating drie weke vóór die moord, was Gouws glo so bang dat sy probeer selfdood pleeg het deur ’n oordosis pille te drink.

Cloete het die familie ná sy vrylating glo plegtig om vergifnis gaan vra en beweer dat hy verander het. Hy het egter hul huis én Gouws die hele tyd dopgehou voordat sy vermoor is.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article