Die Saldanha-polisie het Dinsdag (18 Januarie) twee voertuie ná ’n huisroof teruggevind en vra inwoners om nou te help met inligting.
Volgens AO Yolanda Kotze, plaaslike polisiewoordvoerder, het die roof Dinsdagoggend om 03:30 plaasgevind.
’n Inwoner van ’n gewilde woonkompleks in Saldanha het wakker geskrik met ’n vuurwapen in sy gesig nadat vier mans sy woning binnegekom het. Volgens Kotze het die verdagte ’n voorkamervenster verwyder om toegang te verkry.
Die verdagte het die klaer in die voorkamer vasgebind terwyl hulle die huis beroof het. ’n Onbekende bedrag kontant, drie iPhone-selfone en sleutels van die woning en voertuie is gesteel. Die verdagtes is weg in die klaer se Toyota Quantum en ’n VW Polo.
“Die voertuie is later Dinsdag in Vredenburg verlate gevind. Die Quantum is in Spruitstraat gevind terwyl die Polo in Pietmyvroustraat gelaat is,” het sy verduidelik.
Enigeen met inligting word gevra om die ondersoekbeampte, sers. Natasha Adonis, by die Saldanha-polisie by 022 714 8333 te bel.



