Twee verdagtes is in Darling in hegtenis geneem nadat ’n 37-jarige Vredenburger die naweek by ’n plaas se hek gekaap is.
Nadat hy ’n groep mense by die plaas Kochra afgelaai het, is die man Sondagaand 12 Mei na bewering gekaap.
Volgens kapt. Tania Helfrich, woordvoerder vir die Weskus-polisiedistrik, is hy oorval toe hy die plaashek wou oopmaak. Twee vreemde mans het hom na bewering met ’n skroewedraaier en mes genader, in sy voertuig teruggedwing en gedreig.
Die klaer het met sy aanvallers gestoei waarop hulle hom met die skroewedraaier en mes gesteek het. Hulle het ook daarin geslaag om sy hande vas te bind.
Die kapers het sy selfoon, kontant, bankkaart, skoene en radiotoerusting geroof voordat hulle te voet op die vlug geslaan het. Gert Joubert (27) en Ashwin Sauls (25) is Dinsdag 14 Mei weens die kaping in hegtenis geneem. Hulle het Woensdag in die hof verskyn.


