Twee mans van Worcester het vandeesweek in die Vredenburg-landdroshof verskyn op aanklagte van bedrog wat verband hou met die vals verkoop van voertuie op Facebook.

André Pretorius (59) en sy medebeskuldigde, JJ Janse van Rensburg (51), is met hul inhegtenisneming gewaarsku om Woensdag (8 Mei) op aanklag van bedrog in die hof te verskyn.

Hoewel dit Janse van Rensburg se eerste keer in die hof is, het Pretorius ’n lywige lys oortredings teen hom.

Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n woordvoerder vir die Weskus-polisiedistrik, is Pretorius al verskeie kere aangekeer in onder meer Kimberley, Parow, Vredendal en Springbok vir bedrog, diefstal, omkopery en kwaadwillige saakbeskadiging.

Sy eerste skuldigbevinding was in Mei 1985 in De Deur vir bedrog. Hy is ’n boete van R1 000 of ses jaar gevangenisstraf opgelê. Hy is die laaste keer in 2011 aangekeer vir bedrog in Vredendal, waarvoor hy ook ses jaar tronkstraf gekry het.

In die huidige saak, wat in April verlede jaar by die Saldanha-polisie aangemeld is, het ’n 69-jarige klaer oor ’n tydperk tot 10 Oktober 2022 altesaam R320 000 aan Pretorius in Janse van Rensburg se rekening betaal. Dit was vir ’n voertuig wat die klaer tot nou nog nie ontvang of gesien het nie.

Die klaer het na bewering op ’n advertensie op Facebook Marketplace gereageer en deur middel van WhatsApps met Pretorius begin kommunikeer.

Pretorius het glo ’n deposito van R40 000 gevra om die voertuig vir die klaer te hou. Daarna is nog bedrae in Janse van Rensburg se rekening inbetaal. Die volle bedrag was R320 000. Die klaer moes glo die geld in Janse van Rensburg se rekening inbetaal omdat die voertuig kwansuis “uit ’n boedel” verkoop is.

Tydens ondervraging het Janse van Rensburg beweer hy het wel die geld aan die klaer terugbetaal. Daar is egter geen bewyse van sulke terugbetalings nie.

Helfrich benadruk dat nie alle adverteerders op sosiale media bedrieërs is nie, maar dat Weslander-lesers eers ’n bietjie die “adverteerder” moet uitkyk voordat hulle met hulle begin onderhandel.

Pretorius het byvoorbeeld ook ander name gebruik, soos “Albert” of “Harold” Pretorius.

“Kyk onder meer wanneer die adverteerder se profiel geskep is.

Een van André Pretorius se sosialemedia-profiele.

“Voordat jy enige ‘administrasiefooi’ betaal, of watter benaming hulle ook al vir ’n deposito gee, moet jy eers fisiek na die voertuig gaan kyk. Niemand kan meer geld betaal vir ’n voertuig voordat hulle dit self gesien het nie. Om blindelings geld oor te betaal, stel jou bloot om bedrieg te word.”

Die eerste gevaartekens, volgens Helfrich, is wanneer jy uit die staanspoor gevra word om geld te betaal.

“As die verkoper eerlik is, sal hy of sy toelaat dat jy eers die voertuig of produk besigtig. Terwyl julle mekaar dan op ’n veilige plek ontmoet, kan reëlings getref word vir ’n deposito of die betaling vir die produk.”

As die verkoper direk vra vir ’n deposito om ’n geadverteerde voertuig vir die koper te hou, moet nog ’n waarskuwingslig aangaan. “Dit moet jou eintlik afraai om verder enige transaksie met so iemand te doen.” Wees ook versigtig as die verkoper aandring op die oorbetaling van die volle bedrag en dat dit onmiddellik in sy of haar rekening beskikbaar moet wees. “Tref alternatiewe reëlings of betaal kontant as die koopprys nie ’n te groot bedrag is nie.”

Die saak is uitgestel tot 3 Julie vir verdere ondersoek.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article