Jakkie van Litsenborgh, die nasionale visepresident en nasionale voorsitter: sosiaal en kultureel van die Internasionale Polisie Assosiasie (IPA), staan agter derde van links, en Elbie Gore, nasionale voorsitter: sosio-welsyn en welstand, staan in die middel tweede van regs. Hulle het die Weskus by die Internasionale Polisie Assosiasie (IPA) se internasionale vergadering in Durban verteenwoordig. By hulle is die internasionale bestuur en verteenwoordigers van die Afrika-tak.Foto: IPA


Twee Weskussers het verlede week die Weskus én Suid-Afrika by ’n internasionale vergadering van die Internasionale Polisie Assosiasie (IPA) in Durban verteenwoordig.

Elbie Gore, wat tans by die polisie se Weskus-distrikskantoor in Saldanha gesetel is, en Jakkie van Litsenborgh, ’n afgetrede polisieman wat nou by die Weskus-distriksmunisipaliteit se landelike veiligheid betrokke is, dien in die nasionale uitvoerende komitee van die IPA Suid-Afrika.

Van Litsenborgh is tans die nasionale visepresident en nasionale voorsitter vir sosiaal en kultureel, en Gore is die nasionale voorsitter vir sosio-welsyn en welstand.

Die Afrika-tak bestaan benewens Suid-Afrika uit Mosambiek, Kenia, Eswatini (Swaziland), Botswana, Lesotho en Mauritius.

Verteenwoordigers van al die lande het saam met die internasionale uitvoerende komitee byeengekom om hul uitdagings en die beste praktyke eie aan elke land te bespreek. ’n Geleentheid wat volgens Gore baie besonders gaan wees, is ’n gesamentlike kultuurdag in 2025, wat al die lande gaan betrek.

Pierre-Martin Moulin van Switserland, die president van die IPA, het ook verteenwoordigers se vrae beantwoord en raad gegee oor die pad vorentoe, veral in die lig van sosiale media en bemarking.

Wat op Gore se hart lê, is die werf van jonger lede én nog Afrika-lande vir die IPA.

Die IPA is ’n vereniging vir dienende en voormalige lede van al die polisiëringsagentskappe met die leuse Servo per Amikeco, wat “diens deur vriendskap” beteken. Die IPA het ten doel om vriendskapsbande te skep en samewerking tussen sy lede en ander polisiedienste te bevorder.

Die doelwitte van die IPA sluit ook in die ontwikkeling van kulturele verhoudings tussen sy lede, ’n verbreding van hul algemene kennis en ’n uitruil van professionele ervaring, ongeag rang of status, buite die bestek van amptelike polisiëringsprotokol.

Die Suid-Afrikaanse tak van die IPA is amptelik op 16 Junie 1982 gestig en sy lidmaatskap is op 23 Julie 1982 by die tiende IPA-Wêreldkonferensie in Wiesbaden, Duitsland, goedgekeur.

Volgens Gore kan dienende of afgetrede lede van die polisie, metropolisie, verkeerspolisie, wetstoepassingslede van die nasionale en provinsiale parkeraad, die nasionale weermag se militêre polisielede en burgerlikes in diens van die SA polisie lid van die IPA word.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article