Twaalf vreemdelinge. Twaalf uiteenlopende persoonlikhede. Twaalf redes hoekom hulle – welwetend dat dit nie maklik gaan wees nie– speel om die groot prys te wen.
Die eerste episode van Die brug, wat uit elf episodes bestaan, is Donderdag 26 Oktober om 20:00 op kykNET uitgesaai.
Twee van die Weskus se eie inwoners – Nonnie Geldenhuys (56) van Hopefield en William Walters (32) van Vredenburg – is deelnemers in die program. Dit is by die Buffeljagsdam buite Swellendam verfilm en die natuur speel ’n reuse-rol in nie net die uitdagings nie, maar ook in die visuele skouspel wat die reeks bied.
Geldenhuys, ’n mede-eienaar van die Hopefield-padstal, is die staatmaker in die groep. Haar regte naam is Barbara, maar sy verkies haar noemnaam, Nonnie, omdat dit model, mooi werker, prinses, skoonmaker en koningin beteken. Sy dra altyd haar kopdoek en stapskoene. Nonnie is ’n diep denker met ’n oop hart; iemand wat ’n mens maklik kan vertrou. Sy het ’n stoute kant, en sy is lief vir gesels. Sy plaas haar medemens eerste en sal liewer ander motiveer en ondersteun as om self die aandag te trek. Sy het laat in haar lewe getrou met ’n man wat 16 jaar ouer is as sy. Die man het twee kinders, en sy dogter het ’n seuntjie wat van Nonnie ’n ouma maak. Sy sal altyd in haar hart ’n kind bly, en sy wens sy het die selfvertroue gehad om meer kanse te waag om sodoende meer sukses te behaal.
Nonnie se pragtige diere en plante is wat vir haar geluk in die lewe bring. Ná ’n moeilike pad om te kom waar sy vandag is, soek sy na die vryheid om haarself ten volle te geniet sonder twyfel oor wat môre kan bring. Haar deelname aan Die brug is haar grootste uitdaging nog en om die prys te wen, is haar doelwit.
Die Vredenburger William Walters is ’n kommersiële duiker. Hy is die strateeg. William is, benewens ’n kommersiële duiker, ook ’n persoonlike afrigter in sy vrye tyd. Sy werk behels bote skoonmaak, duik vir mossels en siviele herstelwerk. Hy is ongetroud, maar is al 12 jaar in ’n verhouding met sy lewensmaat. Hulle is die ouers van ’n 11-jarige seun. William werk gereeld met mense, werk goed in ’n span en kan maklik die posisie van leier inneem. Hy kan hard werk en is eerlik, nederig en gedissiplineerd. Die lewe was al moeilik vir hom, en hy het besef alles gaan eintlik oor hoe jy reageer wanneer jy op jou laagste is. Hierdie ervarings het hom gewys hoe sterk hy eintlik is.
William wil Die brug wen, want hy wil trou, sy seun trots maak en ’n goeie lewe vir sy gesin bou. Hy wil homself bewys en die ervaring ten volle benut om sterker aan die ander kant uit te kom.
Maak seker jy loop dit nie mis nie – Donderdag-aande om 20:00 op DStv kanaal 144.





