Twee weke later en daar is steeds geen teken van twee tienerseuns van Lambertsbaai wat vermis geraak het nie.

McNeill Fortuin en Trevor Andrews, albei 13 jaar oud het ’n dag na mekaar verdwyn. Trevor op Donderdag 3 Augustus en McNeill op Vrydag 4 Augustus. Volgens die familie verstaan hulle nie hoe dit kon gebeur het nie.

Beide Catherine Tielings dié tannie van McNeill en Kathleen Andrews dié ma van Trevor, het aan Weslander vertel dat dit nie ongewoond is vir die seuns om te gaan stap en by die winkel te staan nie, maar dat hulle altyd terug keur. In dié geval het die seuns nooit terug huis te gekom nie.

Volgens Catherine het ’n kind van die gemeenskap aan hulle vertel dat hy McNeill en Trevor in ’n swart bussie gesien het. “Toe roep hy vir Trevor en Trevor het gesê hy kan nie uit die bussie klim nie. Soos dit klink kon hulle twee saam wees, maar ons weet nie verseker nie. Dis baie vreemd,” sê Catherine.

Kathleen vertel dat Trevor op die dag van sy verdwyning buite met sy jongste broer was, toe hy sê hy gaan afstap dorp toe. Dis die laaste keer dat sy hom gesien het.

Kathleen sê sy wil net haar kind terug hê en dat daar ’n leemte in haar huis is. As ’n moeder wil sy nie die slegste dink nie en glo vas haar seun lewe nog.

’n Hartseer Catherine sê sy wil ook vir McNeill veilig by die huis hê en dat sy na hom verlang.

Kathleen en Catherine sê hulle is dankbaar vir die ondersteuning van die gemeenskap en die hulp wat die polisie verleen. “Waar ook al hulle is, hoop en bid ek dat hulle net warm is en darem iets kry om te eet. Dit is wat ek die Here vra en dat hulle net veilig huis toe kom,” voeg Catherine by.

Frederick van Wyk, ’n provinsiale polisiewoordvoerder bevestig dat twee vermiste kinders deur die families aangemeld was by die Lambertsbaai polisiestasie. “Ondersoekdossiere is geopen en die Vredendal-polisie se eenheid teen gesinsgeweld, kindermishandeling en seksuele oortredings (FCS) ondersoek albei sake,” sê van Wyk.

Hy voeg by dat die ondersoekbeampte steeds met die hulp van rolspelers na hulle te soek. “Hulle soek vir kameras rondom die gebied om lig te werp op wat presies gebeur het. Hierdie kinders woon nie skool by nie en blykbaar is hulle altyd op straat. Op hierdie oomblik volg die polisie alle leidrade op.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article