Twee klagtes, een van aanranding en een van crimen injuria, is Maandag by die polisie op Hopefield en Laaiplek aanhangig gemaak deur twee partye wat Saterdag in ’n rusie betrokke was.
’n Sakeman van die omgewing sowel as die meisie van een van sy werkers is reeds aangekla.
Die 50-jarige sakeman het Maandag ’n saak van crimen injuria (die wederregtelike en opsetlike aantasting van die waardigheid van ’n ander persoon) by die Hopefield-polisie teen die 31-jarige vrou aanhangig gemaak.
Sy is aangekla en moet op 20 Junie in die Hopefield-landdroshof verskyn.
Die sakeman is dieselfde dag in hegtenis geneem op aanklag van aanranding met die doel om ernstig te beseer en het die nag in die polisieselle deurgebring.
Hy het Dinsdag in die Hopefield-landdroshof verskyn en is gewaarsku om op 19 Mei weer by die hof te wees.
Volgens kaptein Tania Helfrich, polisiewoordvoerder vir die Weskus-distrik, het die klaagster die klag Maandag by die Laaiplek-polisie op Velddrif aanhangig gemaak, maar omdat die voorval in Hopefield gebeur het, is die saak na die Hopefield-polisie oorgeplaas.

