Twee vermeende rowers het Dinsdag (10
Mei) met leë hande van ’n rooftog gevlug hoewel hulle dit aanvanklik nie geweet
het nie.

’n Stemboodskap het Dinsdagoggend die
rondes gedoen oor ’n gewapende rooftog in Saldanha met die verdagtes wat glo in
’n wit Hyundai gevlug het. By navraag het AO. Yolanda Kotze,
Saldanha-polisiewoordvoerder, egter gesê meer detail oor die voorval het aan
die lig gekom.

Kotze sê die voorval het om 08:30 in
die parkeerterrein van die Diazville-kliniek plaasgevind. Volgens hul
verklarings, was twee Fidelity-sekerheidsbeamptes besig om geld in hul voertuig
te laai toe hulle deur ’n onbekende man genader is. Dié man het hul met ’n
vuurwapen gedreig om hul geldsakke te oorhandig.

“ ’n Tweede verdagte, ook gewapen, het
toe ook nader gekom. In die proses is een van die wagte forseer om sy vuurwapen
te oorhandig. Hulle wou ook binne die kluis in die voertuig kom, maar die
sekerheidswagte het verduidelik hulle het nie die kode om dit te open nie. Die
verdagtes het te voet gevlug,” verduidelik sy.

Dit blyk egter in die stadium asof die
 sekerheidsbeampte se vuurwapen al was wat eintlik gebuit was, want
volgens die wagte was die geldsakke waarmee die rowers gevlug het, leeg.

Kotze kan nie in die stadium bevestig
waarvandaan die geld gekom het waarmee die sekerheidswagte glo besig was nie.

Geen beserings is aangemeld nie en die
plaaslike polisie is steeds opsoek na die verdagtes.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 12 March 2026
    Weslander E-Edition – 12 March 2026

Gift this article