Die pistool is in 2019 tydens ’n huisbraak gesteel en onlangs deur die Saldanha-polisie in die besit van twee verdagtes gevind. Foto:


Samewerking tussen gemeenskapslede en polisiebeamptes het Maandag gehelp om twee verdagtes aan te keer.

’n Vrou (21) was die oggend om 11:40 by die Diazville-kliniek toe twee gewapende mans haar nader. Hulle het haar gedreig en sy het haar selfoon en R50 afgegee.

Die twee het die hasepad gekies, maar die klaer is gehelp om die polisie te skakel en twee beamptes van die A-skof het hulle na die toneel gehaas.

Nadat hulle ’n beskrywing van die verdagtes gekry het, het die beamptes die twee opgespoor en agterna gesit.

Volgens AO Yolanda Kotze, ’n woordvoerder van die Saldanha-polisie, het die rowers in Hopland gehardloop, maar danksy hulp van inwoners in die buurt kon die beamptes, toe reeds deur kollegas versterk, hulle vastrek.

Die verdagtes, onderskeidelik 21 en 47 jaar oud, is deurgesoek en benewens die selfoon en geld is hulle ook met ’n CZ 75B-pistool, magasyn en 13 rondes ammunisie gevind. “Om die pistool te kry, was ’n groot sukses, omdat ons bevestig het dié vuurwapen is in Oktober 2019 tydens ’n huisbraak in Vredenburg gesteel,” sê Kotze.

Klagtes van die besit van ’n gesteelde vuurwapen en ammunisie asook roof met ’n vuurwapen sal teen die verdagtes ondersoek word. Hulle het Woensdag in die hof verskyn.

Kotze maan egter Maandag se voorval van roof was een van vyf die afgelope week. Die ander voorvalle was onder meer in Diazweg, Murraystraat en Geelbekstraat. In een geval het ’n man in die straat gestaan, besig om op sy selfoon te tik, toe iemand verbyhardloop en sy selfoon gryp. “In twee van die ander voorvalle is die klaers met pangas gedreig. Ons vra weer eens dat inwoners altyd op hul hoede is en bewus is van wat om hulle aangaan.

“Enigeen wat iemand verdag oplet, kan die polisie kontak om dit aan te meld,” verduidelik sy.

Enigeen met inligting oor enige van die roof-voorvalle word gevra om die ondersoekbeampte, sers. Christopher Smith, by 079 894 0082 te bel.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 12 March 2026
    Weslander E-Edition – 12 March 2026

Gift this article