Twee mans, wat die naweek naby Klawer in hegtenis geneem is nadat hulle in besit van onwettige edelgesteentes ter waarde van R127 240 betrap is, het Maandag (24 April) in die Klawer-landdroshof verskyn.
Moses Sibunda en Kennedy Masimba, onderskeidelik 33 en 46 jaar oud en vermoedelik van Malawi, is volgens ’n polisiewoordvoerder, lt.kol. Malcolm Pojie, Saterdag by ’n padblokkade by die Klawer-weegbrug in hegtenis geneem. Hul Toyota-bakkie is as deel van Operasie Restore, ’n grootskaalse gesamentlike optrede wat op roetes in en uit die Wes-Kaap fokus, ondersoek.
Altesaam 29 ongeslypte diamante, drie ongepoleerde robyne en ’n aansienlike bedrag geld is by die mans in die voertuig gekry.
Presies wat die bedrag is en verdere gedetailleerde inligting kan volgens Pojie nie op hierdie tydstip bekendgemaak word nie, aangesien die ondersoek in ’n sensitiewe stadium is.
Sibunda en Masimba se saak is tot 2 Mei uitgestel, volgens Eric Ntabazalila, ’n woordvoerder vir die Nasionale Vervolgingsgesag, vir borgtoginligting en om hul burgerlike statusdokumente te verifieer. Hulle bly in aanhouding tot hul volgende hofverskyning.




