Twee jongmense van Velddrif is vroeg Saterdagoggend (9 November) in Langebaan in ’n botsing ernstig beseer toe die Toyota Fortuner waarin hulle passasiers was, teen ’n polisievoertuig gebots het.
Nog twee van hul vriende het ligte beserings opgedoen.
Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n woordvoerder van die Weskus-polisiedistrik, het die botsing omstreeks 01:35 op die Oostewalpad gebeur.
Die 19-jarige Jenna Koen en haar kleinneef Jaundré Koen (18) is in ’n kritieke toestand in die sorg van gevorderde lewensondersteunende paramedici deur West Coast Medical Rescue na ’n hospitaal gejaag terwyl nog twee passasiers deur metro-ambulansdienste na die naaste hospitaal vervoer is.
Jenna, wat links voor gesit het, het verskeie beserings opgedoen. Volgens haar pa, Carlo Koen, was die groep vriende uit Velddrif op pad Langebaan toe.
Toe hy op die ongelukstoneel aankom, was dit soos vir enige ouer ’n oomblik van vrees. Die paramedikus het hom ingelig dat sy dogter oukei is, maar dat haar arm baie seergekry het en dat sy op pad hospitaal toe is.
“Ons is daarna hospitaal toe; daar het ek Jenna in die ongevalle-eenheid gesien en daai prentjie speel aanmekaar in my kop af. Haar linkerarm het baie seergekry en hulle kon nie ’n polsslag in haar arm kry nie. Sy is dadelik na die Netcare Christiaan Barnard-hospitaal in Kaapstad oorgeplaas, waar sy operasies ondergaan.”
Boetie Koen, Carlo se neef, wie se seun Jaundré ook ’n passasier in die Fortuner was, sê sy seun sterk in dieselfde hospitaal aan. Jaundré het sy skouerblad gekraak en sy bekken gebreek. “Dit is maar moeilik vir enige ouer. Gelukkig is hy in goeie hande by die hospitaal.”
Die familie bedank alle mediese personeel. “Elkeen van hulle was ’n engel wat oor ons pad gekom het.”
Helfrich verduidelik die polisiebeamptes het in die gebied van die stortingsterrein patrolliewerk gedoen en by die stopstraat geen voertuie sien aankom toe hulle in die rigting van Langebaan gedraai het nie. Ná omtrent twee meter het die Fortuner die polisievoertuig van agter getref. Die polisiebeamptes is nie in die botsing beseer nie.
Volgens Helfrich word ’n saak van roekelose en nalatige bestuur ondersoek.




