Noluvu Ludidi
Natasha Jantjies durf vanjaar die Comrades-marathon vir die tweede keer aan.
Dit is ‘n droom wat in 2024 vir dié Langebaan-inwoner waar geword het. Volgens Jantjies is die doel van vanjaar se deelname, op Sondag 8 Junie, om weer vir haar organisasie, Inspiration, ‘n organisasie sonder winsbejag, te hardloop om geld in te samel.
Jantjies se doel is om R50 000 in te samel. Sy meen om aan die Comrades- marathon deel te neem, verg harde werk, vroeg opstaan en gesond eet. “ ’n Mens leer nogal baie uit die ervaring en ek het op die reis so baie nuwe mense onmoet wat vandag my vriende is.”
Jantjies wil met die geld verder in die jeug belê, juis omdat dit die missie van Inspiration is. “Daar is ook drie seuns wat vanjaar in matriek is en ons wil baie graag die dag vir hulle spesiaal maak. Daar is ook geleenthede waar ons die jeug wil uitneem na ander dorpe se jeugdiges en dit sal baie met vervoer kan help.”
Sandra Bester van die Strandlopers-
atletiekklub, wat ook vir Inspiration gaan hardloop om sodoende geld in te samel, neem vanjaar vir die negende keer aan die Comrades deel. “My doel is om 10 te doen sodat ek my permanente nommer kan kry. Ek doen dit vir persoonlike groei om my te help om veerkragtigheid, vasberadenheid en selfdissipline te ontwikkel.”
Jantjies is versot op fiksheid en sien baie uit na die geleentheid. “Jou sken-
king sal direk bydra tot die skep van geleenthede vir hierdie verdienstelike jong individue om hulle te help om hul volle potensiaal te ontsluit en ‘n beter toekoms te bou,” sê Jantjies.
Om ‘n bydrae te lewer en meer uit te vind, besoek https://inspirationlangebaan.org.za/support/ of skakel Jantjies by 076 582 5959.
. Altesaam 17 atlete van Strandlopers- atletiekklub neem aan die Comrades deel.
Weslander kon nie betyds terugvoer van ander atletiekklubs bekom oor nog deelnemers aan vanjaar se Comrades nie. Laat weet ons gerus indien jy aan vanjaar se Comrades-marathon deelneem. Kontak ons by weslander@novusmedia.co.za of 082 576 0453.





