Geen verdere stappe word oorweeg teen die dokters by die hospitaal in Porterville, wat volgens beweringe hul plig versuim het tydens die dood van ’n geliefde plaasbestuurder ná ’n plaasaanval in die omgewing nie.
’n Herrie het om twee dokters se koppe losgebars nadat vriende vroegoggend op Maandag 1 Julie ’n erg beseerde Gerhard Nel (65), bestuurder op die Tevrede-plaas, by die hospitaal aangebring het.
Nel het omstreeks 02:00 gapende meswonde opgedoen in die aanval waarin vyf rowers hom herhaaldelik gesteek het. Hy het twee meswonde in die nek, drie in die rug en een in die bors opgedoen.
Die rowers het ’n gat onderdeur die elektriese heining gegrawe om toegang tot die perseel te kry en ’n ruit uitgehaal om by die huis in te kom.
Nel en sy vrou, Barbara (63), is in hul slaapkamer oorval, waarna Barbara vasgebind en Gerhard gesteek is. Hulle is hierna toegesluit voordat die rowers met vier vuurwapens en selfone gevlug het.
Nadat Gerhard Barbara help loskom het, het sy die kamervenster gebreek en ontsnap. Sy moes nog ’n venster breek om by die voertuigsleutels in die huis uit te kom sodat sy kon gaan hulp kry.
‘geen pligsversuim’
Hugo Lambrechts van die Halfmanshof-boerdery tussen Porterville en Saron het met die bebloede Gerhard na die hospitaal gejaag. Nel het die plaas namens die Lambrechts bestuur.
Lambrechts het agterna aan Weslander sy ontsteltenis uitgespreek omdat die dokter op bystand nie opgespoor kon word nie.
’n Familievriend kon dit ook nie regkry om ’n ander dokter, wat nie aan diens was nie, so ver te kry om te kom help nie.
Volgens Leensie Lötter, ’n woordvoerder vir die Wes-Kaapse departement van gesondheid, het die verpleegpersoneel aan diens Gerhard onmiddellik gehelp terwyl hulle die dokter op bystand probeer opspoor het.
Sy het gesê weens beperkte personeel mag die dokter op bystand die perseel verlaat mits hulle bereikbaar is en vir noodgevalle binne 15 minute by die hospitaal kan wees.
“Die interne ondersoek na die voorval het daarop gewys dat die kliniese optrede van die mediese personeel wat Nel behandel het, korrek was, maar dat sy beserings baie ernstig was en hy reeds baie bloed verloor het.”
Volgens Lötter was die gemeenskapsdiensdokter op bystand nie telefonies beskikbaar nie, want “sy was tuis om te rus – soos toegelaat deur die departement se interne beleid – nadat sy ’n baie besige skof op roep gehad het, en die hele dag en aand by die hospitaal was, sonder enige ruskans of pouse”.
Lötter het gesê die hospitaal het nie verblyfplek waar personeel op bystand op die perseel kan bly nie. Die ondersoek het dus bevind dat die feit dat sy nie bereikbaar was nie, daarom nie pligsversuim was nie. “Tugoptrede teen die betrokke dokter is dus volgens die departement nie geregverdig nie.”
tydperk op bystand aangepas
Lötter het verder gesê die interne ondersoek het bevestig dat die gebeure ’n resultaat is van ’n gesondheidstelsel wat onder druk is weens beperkte mediese personeel wat genoop word om langer skofte te werk met minder ondersteuning. “Die geweldige druk en uiters lang skofte lei ook tot uitbranding en uitputting van junior dokters.”
Sy het benadruk die hospitaalbestuur het wel die tydperk waartydens dokters op bystand is, aangepas sover personeelkapasiteit dit toelaat, sodat uitputting as gevolg van lang, besige skofte minder is en dokters voldoende tussen skofte kan rus wanneer hulle op bystand is.
Die dokter wat met verlof was en na bewering versuim het om te gaan help, is volgens Lötter die oggend gekontak nadat die pasiënt reeds gesterf het.
“Sy het dus nie buite haar pligte en verantwoordelikhede opgetree nie en haar optrede regverdig dus nie ’n tugoptrede nie.”
Kapt. Tania Helfrich, ’n woordvoerder vir die Weskus-polisie, het gesê die eenheid teen georganiseerde misdaad ondersoek steeds die aanval waarvan die motief vermoedelik roof is.
Niemand is nog weens die voorval in hegtenis geneem nie.


