Saldanha het Saterdag in die doodsnikke Vredenburg uit die wedloop vir die top-12 uitspeelwedstryde laat gly.Foto: Yael Malgas


Met St. Helenabaai en Saldanha wat bly, het Vredenburg se Burg Boys die afgelope naweek gegly.

Die twee buurspanne was Saterdag in hul voorlaaste ligaverpligtinge in ’n rugbyriller op Saldanha se tuisveld betrokke in ’n stryd wat albei spanne moes wen.

St. Helenabaai het min moeite ondervind op die grafkelder teen Young Hearts en die 44-12 oorwinning kan ook verseker dat hulle dalk nog die streekwenners kan word indien die verdedigende Boland-kampioen die komende naweek vasval op die grafkelder, of nie ’n bonuspunt-oorwinning behaal nie. Saldanha en die span van die Agterbaai is tans gelyk op die punteleer met slegs die punteverskil wat in die verdedigende kampioen se guns tel. St. Helena, wat rustyd 13-7 voor was, het egter nooit opgegee nie en die tweede helfte het sprankelende rugby deur albei spanne opgedis. Die tuisspan hoef beslis nie ver te gaan soek nie na wat skeefgeloop het op die veld. Die span, met sy opwindende agterlyn, het al die kanse geskep, maar rotsvaste verdediging deur die besoekers en hul vermoë om die tuisspan se aanvallende spel om te keer het elke keer in punte vir die besoekers geëindig. Die besoekers het in die tweede helfte vier verdoelde drieë en ’n strafskop behaal teenoor die tuisspan se een onverdoelde drie.

Saldanha moes op sy tuisveld diep delf vir sy oorwinning oor die Burg Boys wat ook nog kon kwalifiseer vir die uitspeelwedstryde voor die wedstryd. Hulle is egter in die laaste minute met die kous oor die kop huis toe gestuur deur die tuisspan.

Saldanha het met karakter en veggees gewys hoekom hy die kampioen is en het die stryd 17-14 gewen. Vredenburg se Burg Boys sal die wedstryd seker oor en oor wil kyk om te sien wat vir hulle verkeerd gegaan het. Met die streekwennertitel op die spel sal Saldanha Saterdag ook moet doen wat die Agterbaaiers op die grafkelder gedoen het. Indien die kampioen egter gaan sukkel en die Agterbaaiers het weer ’n bonuspunt- oorwinning oor Velddrif, sal hulle as die streekwenner gekroon word.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article