Werlise Rautenbach het met haar eerste suksesvolle baksel in die oond al meer gemaklik begin raak in die kombuis.
Werlise (27) is tans die sjef en restaurantbestuurder by !Khwa ttu net buite Yzerfontein en geniet elke oomblik. Sy vertel haar liefde vir kos het al op laerskool ontwikkel en sy het nooit besef sy sou ’n beroep daarvan maak nie.
Werlise het haar studies by die sjefskool Institute of Culinary Arts(ICA) voltooi en beskryf dit as “drie intensiewe jare”. Die studies het prakties en teorie behels, wat baie van die jong sjefs geverg het.
Met omtrent vyf maande se prakties by Camphors at Vergelegen en tyd in die kombuis van Avondale-wynplaas se Faber-restaurant, asook onder leiding van Herman Lensing, die kosredakteur van Sarie, het Werlise die nodige kennis deur haar studies opgedoen.
Sy het in haar eerste jaar die geleentheid gehad om by Camphors te werk.
“Jy het wel kennis by die skool opgedoen, maar dit is so anders wanneer dit by praktiese toepassing in ’n professionele kombuis kom. Ek was wel baie bevoorreg om in ’n baie georganiseerde kombuis in te stap, alhoewel dit ook baie besig geraak het.”
By ICA, sê sy, was die praktika meer as vier ure lank, wat behels het dat hulle goed voorbereid moes wees.
“Jy moes presies neerskryf wat jy vir die dag en elke uur gaan doen. Ons is dus goed geleer om voorbereid te wees en met ’n plan te werk,” sê sy.
Wanneer dit by haar kosfilosofie kom, vertel Werlise sy fokus op goeie gehalte-bestanddele wat plaaslik groei en in seisoen is. Sy sê sy het nie juis ’n kenmerkende eie dis nie, maar wel ’n kenmerkende styl hoe sy haar kos voorberei en op die bord voorsit.
“Ek hou van stadigekookdisse en om tyd aan elke dis te bestee. Namate die seisoene verander, verander die disse ook.”
Volgens Werlise werk sy saam met ’n wonderlike span en gee die gaste haar vreugde.
“My langtermyndoelwit is om mense toe te rus met vaardighede wat hulle menslikheid en eiewaarde sal gee – mense wat dalk nie dieselfde geleenthede het as baie ander nie, so basies pas !Khwa ttu baie mooi in.”




