Met André Truter se uittrede die afgelope Saterdag (31 Januarie) as die Saldanhabaai-munisipaliteit se uitvoerende burgemeester, sal die onderburgemeester, Charmaine Laubscher, ingevolge die Wet op Munisipale Strukture (Nr. 117 van 1998) as waarnemende burgemeester optree.

Sy kan moontlik tot die munisipale verkiesing later vanjaar in hierdie rol dien.

Omdat Truter ook die wyksraadslid van wyk 5 was, sal ‘n tussenverkiesing in dié wyk gehou word. Wyk 5 strek van Jacobsbaai tot die buitewyke van Saldanha.

Die Demokratiese Alliansie (DA) het aangekondig dat André Truter, die uitvoerende burgemeester van die Saldanhabaai-munisipaliteit (SBM), uittree. Die nuus is deur Tertuis Simmers, die DA se Wes-Kaapse leier, in ‘n mediaverklaring aangekondig.

Truter het wyk 5 in 2018 in ‘n tussenverkiesing gewen en later as lid van die burgemeesterskomitee gedien. Hy is in 2021 as burgemeester verkies.

Truter het aan Weslander bevestig dat die besluit is nie weens binnegevegte of politiekery nie, maar ‘n geleentheid in die private sektor wat hy nie kon weier nie. Hy het gesê hy sal nie oorsee gaan nie en sy verbintenis aan die streek bly onverminderd: “Saldanha is in my DNS. Ek sal steeds probeer om die gemeenskap te dien – net in ‘n ander rol.”

Hy beskryf sy tyd as burgemeester as ‘n diep persoonlike ervaring en sê die spesiaalste oomblikke was om op voetsoolvlak met inwoners te skakel en hul lief en leed te deel.

Hy wens die Saldanhabaai-gemeenskap ‘n toekoms van groei en vooruitgang toe en sê hy glo die munisipaliteit is gereed vir nuwe internasionale beleggings.

Sy wens is om onthou te word as ‘n mensemens wat werklik vir alle inwoners omgegee het.

Inwoners het hul verwagtinge vir die nuwe burgemeester op Weslander se Facebook-blad gedeel. Hulle noem “eerlikheid, regverdigheid, toeganklikheid, openbare veiligheid, infrastruktuuronderhoud en ‘n opregte liefde vir die gemeenskap” as kernwaardes. Hulle wil ‘n burgemeester hê “wat alle gemeenskapslede dien, sigbaar en aanspreeklik is en voorkeur gee aan basiese dienste eerder as persoonlike of partybelange”.

Simmers het tydens die aankondiging beklemtoon dat Truter die munisipaliteit sedert 2018 gedien het, wyk 5 met 85% van die stemme gewen het en in 2021 as burgemeester aangestel is.

Volgens Truter is hy opgewonde en sien hy uit na die volgende hoofstuk in sy lewe, teryl die Saldanhabaai-gemeenskap wag op ‘n nuwe leier wat hul vertroue en ondersteuning verdien.

Charmaine Laubscher

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article