Weslander-lesers het die afgelope tyd verskeie video’s gemaak van waar ’n trop beeste oor die besige kruising van die pad na Builders en Saldanhaweg in Vredenburg aangejaag word.
Dit is dieselfde kruising waar daar Dinsdagoggend ’n botsing tussen twee voertuie plaasgevind het. Niemand is ernstig in die voorval beseer nie, het Elowayne Gouws van West Coast Medical Rescue bevestig.
Volgens Ethne Lawrence, woordvoerder vir die Saldanhabaai-munisipaliteit, is die munisipaliteit bewus van die uitdagings wat die kruising bied en gaan verkeersligte opgerig word wanneer die nywerheidsgebied verder ontwikkel.
Inwoners is bekommerd dat dit die volgende kruising gaan wees waar daar keer op keer ongelukke tussen voertuie plaasvind. Die berugte Jacobsbaai-kruising is net ’n paar kilometer verder.




