Voormalige Huis Wittekruin-werkers is ongelukkig nadat hulle Dinsdag 31 Mei hul werk verloor het.
Volgens die werkers is 28 werknemers afgedank. Dit was nadat werkers in Maart hul ongelukkigheid uitgespreek het oor onregverdige betalings en hoe hulle in die werkplek behandel word.
Werkers wat op 1 Junie voor Huis Wittekruin betoog het, het aan Weslander vertel hulle het die vorige dag afdankingsbriewe ontvang om hulle in kennis te stel dat hulle summier afgedank is. Die werkers sê verhore het plaasgevind nadat hulle deur Huis Wittekruin van drie verskillende oortredings aangekla is tydens ’n interne proses. Die oortredings hou glo verband met ernstige wangedrag, waaraan hulle skuldig bevind is; ernstige nalatige gedrag (onskuldig) en ernstige vertrouensbreuk tussen werkgewer en werknemer, waaraan hulle ook skuldig bevind is. Hulle sê egter hul afdanking was sonder waarskuwing.
Hulle het ook met Weslander gedeel dat hulle geen terugvoer ontvang het oor hul griewe oor betaling en behandeling, soos voorheen berig nie (“Werkers by tehuis kla oor Badisa”, Weslander, 24 Maart).
Volgens ’n woordvoerder van Badisa is Huis Wittekruin ’n program van Badisa en ontken hy hierdie aantygings ten sterkste.
“Dit word beklemtoon dat alle werknemers in die organisasie beskerm word ingevolge die Wet op Arbeidsverhoudinge. Die werkgewer het al die wetlike prosesse en die Badisa-beleid en -prosedures in die proses gevolg. Die werknemers is in kennis gestel van die ondersoek, asook watter klagtes ondersoek word. Kennisgewings is uitgedeel om die werknemers oor die verhore in kennis te stel,” sê die woordvoerder. Die woordvoerder sê die werknemers het wel terugvoer gekry oor die griewe wat hulle oorspronklik aangemeld het. “Hulle het egter nie die terugvoer van die werkgewer aanvaar nie. Die werknemers is ook in hierdie verband ingelig dat hulle die reg het om die Kommissie vir Konsiliasie, Mediasie en Arbitrasie te nader.”
Die werkers meen hulle het die nodige opleiding om na inwoners van die tehuis om te sien en wil net regverdige behandeling en gelykheid in die werkplek hê.



