Personeel van die Vredenburg-polisie en Transnet op die toneel waar Matthew Nero voor ’n trein beland het.Foto: Alida Buckle


’n Man het Dinsdagoggend omstreeks 10:35 op die treinspoor agter die Masipathisane-laerskool in Witteklip, Vredenburg, voor ’n trein beland.

Matthew Dawid Nero (34) van Rooihalsstraat se lyk is net ná die voorval reg langs die treinspoor agter die skool gekry.

Die treinspoor loop tussen Witteklip en die George Kerridge-woonbuurt deur.

Die oorledene het op sy maag gelê en het wat lyk na werksklere en ’n grys mus aangehad.

Sy kleinerige postuur het omstanders aanvanklik laat bespiegel dat dit ’n kind is wat in die ongeluk omgekom het.

Polisielede het vinnig die toneel met geel lint afgesper voordat lede van die forensiese eenheid dit vir bewysstukke begin fynkam het.

Transnet-personeel het gehelp om die toneel te bewaak.

Die departement van arbeid is ook na die toneel laat kom.

Matthew Nero

Die betrokke trein het agter die Marais-nywerheidsgebied tot stilstand gekom. Die masjinis wou nie oor die voorval met Weslander praat nie.

Die Vredenburg-polisie ondersoek ’n saak van strafbare manslag, want volgens kapt. Tania Helfrich, ’n woordvoerder vir die Weskus-polisie, lyk dit gewis asof Nero deur die trein getref is.

Die rede waarom Nero by die treinspoor was en die presiese omstandighede van sy dood is van die kwessies wat die polisie nou ondersoek.

Volgens Lipuo Lebakeng, ’n woordvoerder van Transnet Freight Rail, het Transnet se veiligheidspan net ’n maand gelede ’n praatjie by die betrokke skool gelewer oor die veilige oorgaan van ’n spoorlyn.

Transnet doen dit landwyd.

Die volgende sessie vind juis vandag (Donderdag 8 Augustus) plaas.

Transnet het vroeër betonpilare met versperrings al langs die spoorlyn opgerig om die gemeenskap te oorreed om eerder die veilige oorgang by die Suidelike-deurweg te gebruik.

Dit is egter stuk-vir-stuk weggedra, met net kaal sementpilare wat agtergebly het.

Transnet se amptelike kommentaar oor Dinsdag se voorval waarin Nero dood is, is nie betyds voordat die koerant drukkers toe is, ontvang nie.

Nero se gesin en familie het ook nie betyds op navrae gereageer nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article