Tienduisende motorfietse het vanjaar weer vir die jaarlikse Toy Run-motorfietsrit, wat Sondag 26 November oor die land heen gehou is, gebrul.
Dit is motorfietsentoesiaste en -klublede se grootste insameling vir liefdadigheid van die jaar, en die Weskus se bikers, asook verskeie lede van die publiek, het hul harte en beursies behoorlik oopgemaak vir plaaslike liefdadigheid.
Dennis Robinson, voorsitter van die Weskus-motorfietsvereniging (WMA), het gesê hulle het met die veiling van ’n groot verskeidenheid produkte – van kussings tot wyn – sowat R20 500 vir die Eilandhuis vir gestremdes in St. Helenabaai ingesamel.
Die negende Weskus Toy Run het vanjaar by die Weskus Mall begin, waar lede van Checkers se Sixty60-motorfietsklub ook speelgoed onder luide applous aan lede van die WMA oorhandig het.
Die parkering voor die Mall se hoofingang het nog nooit so gebrul soos met die aankoms en wegtrek van die groep van bykans 250 motorfietse nie. ’n Paar entoesiaste het selfs uit die Kaap gekom om die dag mee te maak.
Ná ’n gesamentlike rit deur Saldanhaweg en Vredenburg se hoofstraat is die speelgoed, badgoed en skryfbehoeftes plegtig by die Juffroushoogte-gasteplaas aan WMA-lede oorhandig.
Die sagtespeelgoed wat op valhelms, stuurstange, in leeronderbaadjies en selfs op hul eie sitplekke aangery is, het ’n sleepwa volgemaak – elke speelding en ander produkte is met baie liefde gegee.
Daarna is lekker in die koelte op die groen grasperk gekuier terwyl die veiling gehou is.
Die bikers het ook die stalletjies wat kos, klere en motorfietsbybehore verkoop het, goed ondersteun.





