Met die eerste ronde van die Boland-Grootuitdaagbeker-reeks wat momentum kry, is die twee topspanne van verlede seisoen, Saldanha en St. Helenabaai, weer in ’n stryd om die eerste plek op die punteleer gewikkel.
Saldanha het Saterdag op sy tuisveld gewys dat ’n wedstryd ná 80 minute teen ’n omgekrapte Young Hearts-span gewen kan word en het die stryd 30-24 beklink. Die verdedigende kampioen moes in die eerste helfte al die verdedigingswerk doen terwyl die besoekers ten spyte van hope balbesit en gebiedsvoordeel nie voordeel daaruit kon trek nie.
Saldanha, wat rustyd 3-12 agter was, het egter in die tweede helfte beter gespeel en met die bonuspunt- oorwinning ook sy eerste plek op die punteleer behou.
Young Hearts met sy opwindende agterlyn het egter die verdedigende kampioen se verdedigingslinie deeglik beproef. Saldanha se kenmerkende veggees en wil om te wen was uiteindelik net te veel vir die besoekers.
Divan Joshua, Jaydee Coetzee, Bradley Storm, Dorihano Carolus en Dumashu Maya het die tuisspan se drieë gedruk.
Saldanha besoek Piketberg hierdie naweek. Young Hearts sal die naweek sy beste voet moet voorsit in sy derby-stryd teen die groen truie van Mamre. Mamre het Saterdag op sy tuisveld met 25 elk gelykop gespeel teen Paternoster. Die groen truie het ’n gulde geleentheid deur sy vingers laat glip en ’n oorwinning kon die span in die gesamentlike tweede plek geplaas het.
Velddrif, wat ná sy gelykopstryd in Hopefield tans die derde plek op die punteleer beklee, sal sy posisie Saterdag teen Koringberg wil behou.
Die groot stryd die naweek is St. Helenabaai se Albatrosse wat Vredenburg se Burg Boys in sy agterplaas pak.. Volledige uitslae: Saldanha 30-24 Young Hearts; Hopefield 29-29 Velddrif; Mamre 25-25 Paternoster; Koringberg 26-35 Langebaan.
Die naweek se bepalings is:Weskus
Vredenburg t. St. Helena, Piketberg t. Saldanha, Young Hearts t. Mamre, Velddrif t. Koringberg en Paternoster t. Hopefield. Langebaan los.Swartland
Moorreesburg t. Never Despair, Riebeeck United t. Abbotsdale, Goodhopes t. Porterville, Saron t. Villagers Wittewater en Wesbank t. Darling.



