Carli Perold as jong dogtertjie toe sy nog nie netbal mag gespeel het nie.


Topmatrikulant, eerstejaar- mediese student en ’n verlede wat baie ander jong mense die berge in sou laat hardloop – Carli Perold (18) van Porterville het dit vinnig duidelik gemaak dat sy nie een is om weg te skram van moeilike omstandighede nie, maar eerder op haar drome fokus.

Carli, wat op hul familieplaas in Halfmanshof tussen Porterville en Saron grootgeword het, gaan vanjaar medies (MBChB) aan die Universiteit Stellenbosch studeer. Sy het haar finale toelating tot studie eers die oggend van 18 Januarie van die universiteit ontvang.

’n Paar uur later het sy boonop uitgevind dat sy die Hoërskool Porterville se topmatrikulant van 2023 is nadat haar uitslae ’n A-gemiddelde van 86% opgelewer het.

Dit was nooit haar droom om eerste in haar graad te wees nie – haar droom is om eendag ’n dokter te word. Nie omdat sy kan nie, maar danksy jare se dokters- en hospitaalbesoeke, mediese toetse, ’n groot operasie met langtermyn-gevolge en weke se skoolwerk wat agterweë gebly het as gevolg van haar gesondheid.

Hoewel die redes nie juis bemoedigend klink nie, is dit juis haar ervaring en dokters wat Carli laat besluit het om self een te word. “Ek het nooit ’n plan B gehad nie,” sê sy.

Hoekom nie? Sy wil as dokter lewens raak soos hulle haar lewe aangeraak het. “Ek wil ander kinders laat voel soos my dokters my laat voel het. Ek wil ander kinders help soos wat ek gehelp is,” voeg sy opgewonde by.

Carli, die jongste van drie susters, se onstuimige verhaal het op die ouderdom van sewe jaar begin toe haar gesondheid ’n skielike draai geneem het. Carli het tussen graad 1 en 2 binne ’n kort tydperk 20 kilogram opgetel en daagliks van maagpyn gekla – soveel so dat sy nie meer wou skool toe gaan nie. Carli was van graad 1 tot graad 12 in die Hoërskool Porterville.

Haar ma, Marinette, het besluit om haar onderwysers te nader en te raadpleeg oor wat fout kan wees. Die probleem het nie by die skool gelê nie. Sy het toe besluit om Carli na hul huisdokter te neem, wat haar op sy beurt na ’n dieetkundige verwys het.

“Die huisdokter het gedink dit is dalk weens verkeerde eetgewoontes,” verduidelik sy.

Die dieetkundige in die Paarl het met die eerste oogopslag besef Carli se probleem lê nie by wat sy eet nie; iets anders is aan die gang. Verskeie spesialiste en toetse het toe gevolg.

In Mei 2013 het ’n sonar getoon dat sy ’n gewas in haar milt het. Magnetiese resonansiebeelding het nog ’n gewas in haar brein naby haar pituïtêre klier uitgewys. ’n Groot operasie in die Chistiaan Barnard-hospitaal het gevolg waartydens haar milt vir ’n biopsie verwyder en weer teruggeplaas is. Hoewel die operasie glad verloop het, het Carli ’n ernstige infeksie opgedoen. “Ek het verskriklike koors gehad en ek was naby aan die dood,” vertel sy. Die dokter het aan haar ouers, Marinette en Danie, bevestig dat slegs ’n wonderwerk hul dogter sou red. “Die dokters kon niks meer vir my doen nie. My koors wou nie breek nie en my hart was nie normaal nie. Ek was regtig baie siek,” dink sy terug.

Carli was daarna ses weke in die waaksaal en het in daardie tyd vir verskeie toetse na die Grootte Schuur-hospitaal gegaan, wat ook beteken het dat sy ’n volle kwartaal in graad 2 misgeloop het.

’n Wonderwerk was dit inderdaad toe Carli se koors tot haar gesin se verligting breek, haar hart weer normaal begin funksioneer en sy begin gesond word. Die uitslae van die biopsie was ook positief.

Die gewas was nie kwaadaardig nie, maar is veroorsaak deur ’n mediese toestand waartydens ’n tweede milt binne haar milt begin groei het, verduidelik sy.

Met ’n lumbale punksie is ook vasgestel dat die gewas op haar brein nie kwaadaardig was nie, maar deur neurofibromatose veroorsaak is.

Volgens Carli is dit reeds in haar familie. Geen groot operasie was ooit nodig nie, slegs sesmaandelikse opvolgbesoeke en -toetse om seker te maak dat die gewas nie groei of verdere drukking veroorsaak nie.

Die oorsaak van haar maagpyn en die kilogramme wat nie afgeskud kon word nie, was egter steeds ’n probleem.

Carli se wêreld het verander toe sy uiteindelik na ’n pediatriese gastroënteroloog, dr. Silvia Strobele in Panorama, verwys is. “Dit was die ongelooflikste dokter wat ek nog ontmoet het,” sê Carli, wat toe al ’n hele paar ontmoet het.

Strobele het daar en dan haar grootste inspirasie geword.

“Dit was waar my liefde vir medies vandaan gekom het. Sy het my so kalm en rustig laat voel.

“Ek kon met haar praat en sê hoe ek voel. Ek kon agterkom dat sy regtig omgee,” vertel Carli, wat byvoeg dat al haar dokters ook net die beste vir haar wou hê.

“Ek het nog na haar gekyk en gedink sjoe, ek wil eendag soos hierdie dokter wees en eendag kinders laat voel hoe sy my op daardie oomblik laat voel het,” vertel sy.

Strobele het uiteindelik prikkelbare dermsindroom en polisistiese ovariumsindroom by Carli gediagnoseer, wat lig gewerp het op haar maagpyn, gewigtoename en van die ander kwale waarmee sy sedert so ’n jong ouderdom geworstel het.

Ná die onderskeie diagnoses en regte medikasie het Carli stelselmatig daardie 20 kg afgeskud en haar gesondheid het drasties verbeter.

Haar lewensraad is om aan te hou bid, te glo en hard te werk vir dit wat jy wil hê.

“Vergeet van jou omstandighede. Werk hard aan daardie droom. Fokus daarop, want dit gee jou iets om voor te lewe.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article