Om in die landbousektor uit te blink, is besonders, aangesien 22% van alle landbouwerkers in die Wes-Kaap is, maar vir Hermiena Hendricks spreek dit van deursettingsvermoë.
Hendricks (46) is reeds 19 jaar in die landbousektor en is onlangs as Piket-Bo-Berg se wenner van die provinsiale Prestige-landboukompetisie aangewys.
’n Mens sal haar daagliks by Mouton’s Valley Trust in Piketberg vind. Hier is sy ’n junior bestuurder – ’n pos waarop sy veral trots is.
“Ek het al voorheen verskillende kategorieë gewen en in sekere jare in die top-drie geëindig. Ek het egter bly glo dat ek eendag die algehele wenner van hierdie kompetisie kan wees.
“Dis min dat vroueplaaswerkers sommer bo die manne uittroon, en die feit dat ek hierdie jaar die wenner was, beteken dat vroue dalk nou meer aan hulself gaan begin glo en besef hulle kan ook die wenner op streekvlak wees. So, ek beskou hierdie as my deel van vroue- bemagtiging,” verduidelik sy oor die oorwinning vir haar streek.
Hoewel sy byna twee dekades in die sektor is, sê Hendricks baie dinge in landbou maak haar steeds opgewonde. “Ek werk reeds 19 jaar op dieselfde plaas en het oor baie jare baie geleer. Ek is tans ’n leiersfiguur buite in die boorde en in die pakstoor. Daar is so baie ontwikkelingsgeleenthede in landbou en my mening is dat ons nog glad nie naby gekom en alles bereik het nie.”
‘bitter uitdagend’
“Ek werk met mense, en mense is emosionele wesens. Dis vir my dus ’n lekker uitdaging om daardie sy van mense te hanteer en te bestuur. Dan natuurlik is daar die tegniese kant van boerdery – bitter lekker, maar bitter uitdagend!” bieg sy.
Sy maan egter indien jy nie kans sien om in die “elemente” (die weer) te werk nie, moet voornemende landbouwerkers maar wegbly.
Deel van Hendricks se ontwikkeling is om mentor te wees – een van die beste leerskole, na haar mening. “Laat mense, wat meer weet en meer ervare is as jy, toe om jou te leer. Ek het reg onder begin en stelselmatig die leer geklim. Ek kom dus van niks – ’n nederige begin – en kan vandag trots wees op wat ek bereik het.”
Danksy haar goeie werk en ervaring kan sy nou ander help oplei.
“Sou ek my doelwitte bereik om op provinsiale vlak te wen, wil ek ’n groter rol vervul ten opsigte van die bemagtiging van ander vroue rondom my. Ek gaan gewis ’n mentorskaprol inneem. Dalk kan hierdie mentorskap omgesit word in klein landbouprojekte vir vroue, en só help ons saam die ekonomie van ons land bou.”
Dit blyk dit is die innovasie, verandering en uitdaging waarna Hendricks juis uitsien in haar loopbaan. Sy meen enigeen wat dink ’n werk in dié sektor is vir hulle, moet bereid wees om by die tye aan te pas. “Die ou manier van boer, waar mense met pik en die graaf gesweet het, is lankal verby. Die swaar, moeilike werk word deesdae met masjinerie gedoen, wat die pik en die graaf vervang het.
“Mense wat in landbou wil werk, moet bereid wees om ’n kopskuif te maak. Mense moet weet die winters is nie maklik nie, want jy werk buite, en dieselfde kan van die somer gesê word.”
provinsiale vlak
Sy meen daarom is dit juis belangrik om goed na die werkersmag en die mense agter die produkte om te sien. “Die bestuur van mense se emosies kan ’n uitdaging wees. Elemente wat ons nie kan beheer nie; inflasievlakke van die land en die wisselkoers is alles deel daarvan.”
Talle Piketbergers het Hendricks met haar toekenning gelukgewens en meen dit is welverdiend. Op haar beurt mik Hendricks steeds na die provinsiale toekenning.
“Ek wil vir eers die Prestige-landbou-kompetisie op provinsiale vlak wen. Vandaar is dit net boontoe en niks moet in my pad staan nie. Ek is op pad na ’n pos toe wat dekades lank beskou is as net vir die manne. Ek gaan dit myne maak – sonder twyfel!” vertel sy.
Werk is egter nie Hendricks se enigste passie nie. Wanneer sy tyd vir haarself het, sal sy in haar tuin gevind word. “Ek is daagliks in die teenwoordigheid van my kollegas en ander in landbou. Daarom word my tyd oor naweke gewy aan my tuin by die huis, lees en dan tyd vir myself.”
Op ’n vraag oor al haar suksesse, vertel Hendricks dit het alles te doen met haar geloof. “Ek heg bitter groot waarde aan my verhouding met my Skepper. Ek erken eerstens dat die vaardighede wat ek het, nie van myself kom nie. Vir hierdie rede is my dank teenoor my Skepper. Ek besef die rol wat hy in elkeen van my suksesse sover gespeel het.
“Ek het as ’n klein, weet-maar-min junior begin en vandag kan ek met trots vir ander sê dat ek eintlik die pakstoor help bestuur.”
Daarom is Hendricks se deelname aan die Prestige-toekennings deel van die nalatenskap wat sy wil laat. “My voetspoor strek ook verder as net die plaas en pakstoor waar ek werk tot diep binne-in die gemeenskap.”
Sy is onder meer lid van ’n organisasie sonder winsbejag en ’n paar van die subkomitees vir onder meer vroue, die jeug, gesondheid en die plaaslike plaaswerkersforum.
“Saam met my mede-‘champs’ en die gemeenskap bou ons stukkie vir stukkie aan ’n beter gemeenskap.”





