Die Boland-rugbyunie (BRU) en sy borge het Maandag die Sanlam-Boland-Top-12-klubtoernooi bekendgestel.
Die Sanlam Boland Top-12-klubtoernooi, waarvan Sanlam die hoofborg is met ondersteuning van Vumatel, Tekkie Town, Santam en Umbro, skop op Saterdag 21 Oktober af en opwindende rugby kan in die komende vyf weke van die deelnemende klubs verwag word.
Die Top-12-byeenkoms is ’n hoogtepunt vir spelers wat aan die BRU se Grootuitdaagreeks deelgeneem het, sowel as vir toeskouers.
Met altesaam 216 geregistreerde klubs, 481 klubspanne en meer as 18 000 geregistreerde klubspelers en skole in 13 munisipaliteite, is die Boland-rugbyunie Suid-Afrika se grootste rugbyunie.
Die 12 spanne wat kragte meet vir die beker sluit in die debutante Mamre en die verdedigende kampioen, Saldanhabaai, uit die Weskus-streek, asook Bella Vista van Ceres en Roses van Wellington van die Witsentraal-streek, en Safcol United en Hawston wat die Overberg-streek sal verteenwoordig.
Robertson Town en Young Hamiltons wat die Breelangeberg-streek verteenwoordig, Darling en Wesbank van die Swartland-streek en Vanrhynsdorp Eagles en Delicious van die Noordwes-streek, rond die groep van 12 klubspanne in die reeks af.
Die spanne is in twee groepe gedeel en Saldanhabaai reis hierdie naweek vir sy eerste wedstryd na Robertson.
Dié Weskus-span het Maandagaand sy span vir die toernooi by die Holy Crusade-kerk in Diazville bekendgestel.
Die span is deur verskeie sprekers moed ingepraat by die geleentheid.
Tydens die kompetisie se bekendstelling het Bennie van Rooi, die president van die Boland-rugbyunie, die 12 kapteins aangemoedig om hul harte uit te speel en hoop te skep.
“Ons is verheug om Sanlam as hoofborg vir die Sanlam-Boland-Top-12-kompetisie saam met Vumatel, Tekkie Town, Umbro en Santam te hê,” het Van Rooi gesê.
“Tekkie Town glo in gemeenskapsverandering. Ons het ’n sterk teenwoordigheid in die Boland-streek, en samewerking soos hierdie stel ons in staat om ’n verskil op gemeenskapsvlak te maak.”
Gary van Loggenberg, Sanlam se verteenwoordiger, het spelers gemotiveer om met vertroue te speel “want dit is waarvoor Sanlam staan”.
“Hoewel die wen-faktor groot is by klubs, speel in die regte gees en maak die borge trots op hierdie unieke produk wat hier gestig is,” het Van Loggenberg gesê.
Twee plaaslike kunstenaars, Rjay en Lkay, het ’n spesiale temalied vir die Sanlam-Boland-Top-12 geskryf, wat voor elke wedstryd gespeel sal word.
Ondersteuners kan opwindende rugby in die Sanlam-Top-12-liga sowel as kommersiële aktiwiteite verwag, met al 33 wedstryde wat deur plaaslike stroomvennote regstreeks uitgesaai sal word.
Die kompetisie begin eerskomende naweek (Saterdag 21 Oktober) en eindig op 2 Desember met die eindstryd wat in die Boland-stadion beslis sal word.





