Die spankapteine van die spanne in die Sanlam-Boland-Top-12 saam met Bennie van Rooi (president), Pat Marran (vise-president) en Victor Hougaard (Sanlam-verteenwoordiger).

Die Sanlam-Boland-Top-12-, Super-8-, Super-10- en Super-16-rugbyformaat is die afgelope Woensdag (24 September) in die Boland-stadion in Wellington aan die klubs, media en gemeenskap bekend gestel.

By die geleentheid, wat op die Sanlam-Boland-rugbyunie se tuisveld, die Boland-stadion in Wellington, plaasgevind het en regstreeks op hul Facebook-blad gestroom is, het Bennie van Rooi (die unie se president) sterk beklemtoon dat die toernooi onveranderd voortgaan soos beplan is.

Hy het dit duidelik gestel dat negatiewe uitlatings en bydraes wat deur individue op sosialemediaplatforms versprei word, geen invloed op die voortsetting van die toernooi sal hê nie.

Volgens Van Rooi het sy bestuur ‘n mandaat van die klubs ontvang om voort te gaan en daarom het hulle die bekendstelling op Erfenisdag gedoen. Hy het die geleentheid gebruik en diegene uitgenooi om hom “te ondersoek” of met hom te kom gesels om meer uit te vind wat regtig in Boland-rugby aangaan.

Van Rooi het ook sy waardering teenoor die borge en ondersteuners, wat die toernooi moontlik maak, uitgespreek.

Hy het Sanlam, Santam, Vuma, Tekkie Town, Heineken Beverages, Rainbow Chickens en Mama’s Pies (‘n nuwe toevoeging tot die Sanlam-Boland-rugby-unie se lys van borge) geprys dat hulle rugby ondersteun. “Met hierdie borge skep ons hoop vir ons spelers en klubs,” het hy bygevoeg.

Volgens Pat Marran, die vise-president van die Boland-rugbyunie, is hierdie toernooi ‘n bewys van die groeiende belangstelling in plaaslike rugby.

Die wenner van die toernooi sal ‘n indrukwekkende R100 000 ontvang, terwyl die naaswenner met R70 000 beloon sal word. Die wenners van die superligas wen R60 000 en die naaswenners R30 000.

Die Sanlam-Boland-Top-12 is die vlagskip van die unie. Dit is een van die grootste klubtoernooie in SA en trek jaarliks meer as 200 000 toeskouers en meer as twee miljoen kykers op die SkoleSport-uitsaaikanaal.

Met ‘n ryk geskiedenis van rugby in die streek, en spanne soos Robertson Town (verdedigende kampioen), Villagers Worcester (2024-naaswenner), Safcol (2023-kampioen), Botrivier (nuweling), Saldanha (2019- en 2022-kampioen), Roses United (enigste onoorwonne span in die 2025-seisoen), Vanrhynsdorp Eagles (terug as Noordwes-verteenwoordiger), Delicious (terug in Top-12 ná 2023), Hillcrest United (nuweling), Vredenburg (terug as Weskus-verteenwoordiger), Wesbank (terug in Top-12 ná 2023) en Abbottsdale (terug as Swartland-verteenwoordiger) gaan die vonke tussen die topspanne behoorlik spat.

Die Sanlam-Boland-Top-12 en -Superliga is van die grootste gebeurtenisse in die Boland en skop af op 11 Oktober op die onderskeie rugbyvelde oor die Boland heen.

Toeskouers kan hulle gereed maak vir opwindende rugby oor die volgende sewe weke met die halfeind- en eindstryd in die Boland-stadion in Wellington.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article