Die stof het nog lank nie gaan lê nie . . .
Die Saldanhabaai-toerismeorganisasie (SBTO) se deure is lankal toe, maar die omstredenheid kry nie end nie.
Nuwe verwikkelinge
Die nuutste in die uitgerekte sage het betrekking op voormalige werknemers en hul stryd om geld uit die SBTO te kry nadat hulle glo onregverdig afgedank is.
Verder het die werknemers ’n klagte by die spesiale ondersoekeenheid (SOE) ingedien en gevra dat die SOE ondersoek instel na beweerde finansiële wanbestuur van die organisasie en beweerde wanbesteding van belastingbetalersgeld. Die vorige bestuurder, Shaun Visser, het die SOE ook versoek om die laaste voorsitter, Vallerie Murphy, se persoonlike geldsake te laat ondersoek. Murphy voel egter sy word geboelie en sê sy word nou in haar persoonlike hoedanigheid aangeval.
Weslander het die klagte by die SOE bevestig en ’n boodskap, wat melding van ’n ondersoek maak, wat Michael Leaser, hoof van die SOE in die Wes-Kaap glo aan een van die afgedankte werknemers gestuur het, gesien. Volgens dié boodskap sal “die uitkoms van die ondersoek in ’n finale verslag aan die president voorgelê word”.
Weslander het egter teen druktyd nog nie self terugvoering van die SOE ontvang om ’n ondersoek te bevestig nie.
Afdankings
Die Saldanhabaai-munisipaliteit (SBM) se diensvlakooreenkoms met die SBTO het teen einde Mei 2021 geëindig en is nie weer hernu nie.
Die SBTO het jaarliks R2,4 – 2,8 miljoen ontvang om ooreengekome toerismefunksies binne die munisipale gebied te behartig.
Voor die SBTO se sluiting is verskeie personeellede die afgelope paar jaar onder omstrede omstandighede óf afgedank óf afgelê.
Drie personeellede, wat die voormalige SBTO-bestuurder Annelie van der Merwe insluit, is in 2019 geskors en hulle het die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) genader omdat hulle gevoel het hulle is onregverdig afgedank.
Weslander het in Oktober 2020 berig die KVBA het bevind dié afdankings was wel regverdig. Volgens ’n Weslander-berig van 8 Oktober 2020 is Van der Merwe skuldig bevind op 18 aanklagte, waarvan een die onregverdige uitbetaling van bonusse was.
Shaun Visser het in 2019 Van der Merwe as bestuurder van die SBTO opgevolg, maar hy is teen einde Maart 2020 ook geskors.
Ook is ander personeellede in hierdie tydperk afgedank.
Visser beweer hy is afgedank omdat hy “te veel ongemaklike vrae” oor die begroting gevra het en daarop aangedring het om die finansiële state te sien.
Hy beweer ook sommige van die ander personeellede het hul werk verloor omdat hulle ook snuf in die neus gekry het.
Visser is ontslaan op ’n paar klagte wat onder andere diefstal ingesluit het. Visser sê hy is onskuldig en het sy saak na die KVBA geneem, wat op 21 Oktober 2021 bevind het hy is onregmatig afgedank.
Carlton Johnson, ’n KVBA-kommissaris, het bevind Visser se ontslag was substantief onbillik (geen geldige rede), maar dat ’n billike prosedure wel gevolg is om hom te ontslaan.
Vallerie Murphy, die laaste voorsitter van die SBTO, het vandeesweek aan Weslander gesê sy voel “die KVBA se toekenning aan die werknemers was voortydig aangesien sy amptenare, ten spyte van die feit dat hulle vooraf in kennis gestel is, nie die kommissaris meegedeel het dat die SBTO se verteenwoordigers op daardie tydstip besig was om van Covid-19 te herstel nie. Die SBTO is nie ’n billike geleentheid gegun om bewyse aan die KVBA voor te lê nie.”
Sake gewen, maar nie uitbetaal
In Visser se arbitrasietoekenningsdokument, wat Weslander ook onder oë gehad het, beveel die KVBA die SBTO om R198 000 teen 12 November 2021 aan Visser te betaal.
Visser is tot nou steeds werkloos en het nog nie sy geld ontvang nie.
Ook het twee ander voormalige personeellede van die SBTO, wat verkies om nie hul naam te noem nie, glo hul KVBA-sake gewen. Hulle het ook nog nie hul geld gekry nie.
Bates verkoop
Volgens Visser het die balju opdrag ontvang om beslag te lê op die SBTO se bates, maar die organisasie se voertuig is reeds verkoop en die meeste van sy ander bates ook.
“Ek het bewys van die motor se verkoop by die verkeersdepartement gekry en ook met die nuwe eienaar gepraat,” het Visser gesê.
“Ons (Visser en die ander personeel) is baie teleurgesteld, want ons het gehoop ons kan ons geld kry wanneer beslag op die motor gelê is.”
Murphy het aan Weslander bevestig die motor en die bates is verkoop om rekeninge te betaal en die SBTO se skuld te delg voordat die organisasie sy deure kon sluit.
Visser sê hy het ’n amptelike eis aan die SBTO ingedien, toe die SBTO in die Weslander geadverteer het dat krediteure waaraan die SBTO geld skuld eise moet indien, maar nie ’n sent ontvang nie.
Die oorblywende bates, wat aan die SBM behoort weens die bepalings van die laaste diensvlak-ooreenkoms, is glo in die Vredenburg-kantoor en is gemeubeleer aan nuwe huurders verhuur. Murphy sê daar is nie geld om aan die voormalige werknemers uit te betaal nie.
Volgens Visser het die KVBA voorgestel dat hy nou die arbeidshof nader oor wat sy magte is om beslag op bankrekeninge te lê.
Murphy het gesê die werknemers is welkom om die arbeidshof te nader. Sy glo as die getuienis aangehoor word, sal die hof se beslissing in die guns van die SBTO wees.
Murphy sê Visser is besig om haar te teister en sy werk daaraan om ’n interdik teen hom te kry. Intussen het Visser ook ’n klagte by die menseregtekommissie gaan indien.
SBM antwoord
Visser is ontevrede dat die SBM glo oë toeknyp, aangesien belastingbetalersgeld betrokke is. Hy voel die SBM moet hiervoor verantwoordbaar gehou word.
Volgens die munisipale bestuurder Heinrich Mettler bestaan die ooreenkoms tussen die SBTO en die SBM nie meer nie en is die genoemde KVBA-sake “werknemer-en-werkgewer verwante sake” waarin die raad geen rol speel nie. “Ons is dus nie in die posisie om in te gryp of eise aan die SBTO te stel nie,” het hy gesê.
Visser voel egter die SBM het “dubbele standaarde” aangesien hulle met die vorige ronde afdankings van Annelie van der Merwe en kie betrokke was en selfs getuig het.
Volgens Ethne Lawrence, woordvoerder van die SBM, is die munisipaliteit tans besig met ’n hersieningsproses wat ’n “deeglike situasie-analise insluit om te lei in langtermynbeplanning vir die daarstelling van ’n effektiewe struktuur vir plaaslike toerisme”.
Geskiedenis
Die historiese stasiegebou in Hoofstraat, Vredenburg, wat in 2017 pragtig gerestoureer is om ’n nuwe sentrale hoofkantoor vir die SBTO te wees, word sedert die toerisme-organisasie se ontbinding deur ’n ander organisasie gehuur.
Weslander het voorheen berig ’n dokument het in November 2018 die ronde op sosiale media gedoen waarin gevra is Murphy en die direksie moet uittree en ’n nuwe SBTO- uitvoerende komitee gekies word.
In Desember 2018 het alles op die jaarvergadering tot ’n punt gekom toe sommige lede van die SBTO gevra het dat Murphy uittree.
Tugstappe is teen verskeie werknemers ingestel en sommige lede het gevoel dat behoorlike prosesse nie gevolg is nie. Beskuldigings tussen voormalige raadslede, Murphy en lede van die organisasie het opgeduik en Murphy het besluit om die eise te ondersoek. ’n Mosie om Murphy op die vergadering uit te skakel, het misluk en sy is as voorsitter herkies.
’n Verslag waarin die ondersoek na eise op die jaarvergadering uiteengesit word, is in April 2019 vrygestel.
Murphy het in die verslag beweer al die nodige protokol is ten opsigte van personeel gevolg en het haarself verdedig.
Ontevrede SBTO-lede was op daardie tydstip nie oortuig dat alles by die organisasie wel is nadat die verslag vrygestel is nie. Hulle het gesê dit blyk dat geen werklike onafhanklike ondersoek plaasgevind het nie aangesien die verslag deur Murphy vrygestel is.





