Weskussers is saam met hul medelandsburgers in vir nog ’n maer jaar.
Dit kom na aanleiding van die minister van finansies Enoch Godongwana se begrotingsrede waarin hy prysstygings op van verbruikers se gewilde plesieraankope aangekondig het.
Dit sluit in dat verbruikers nog meer sal moet opdok vir alkohol en sigarette asook ’n 2c per gram styging in “suikerbelasting”.
Hoewel die minister op ’n positiewer noot aangekondig het dat daar vir die eerste keer in 32 jaar nie ’n brandstofheffing sal wees nie, sien talle dit aan vir ’n oëverblindery omdat die prys van brandstof net verlede week nog skerp gestyg het met die prys van ’n liter 95-oktaan wat op R20,88 die petrolpompe laat kreun.
Een sektor wat voordeel trek uit die begroting, is die toerismesektor, wat die afgelope twee jaar swaargekry het onder die pandemie. ’n Bykomende R360 miljoen is uit die staatskas vir die sektor toegeken. Die SBM-burgemeester, André Truter, het juis vroeër na afloop van die provinsiale staatsrede verwys na toerisme as ’n manier om die plaaslike ekonomie weer aan die gang te kry. Volgens die Weskus-distriksmunisipaliteit se IDP 2021 is toerisme die primêre ekonomiese bedryf vir 13 van die dorpe aan die Weskus. Vier van die 13 dorpe val onder die SBM, en tog is daar nie tans sprake van ’n bestaande toerismestrategie wat gehandhaaf word om die bloeiende sektor na groener weivelde te lei nie.

