Die Volkswagen Polo op die ongelukstoneel.Foto: WC Life Traffic & Safety Reports


’n Bejaarde toeris van Switserland is dood en sy vrou ernstig beseer in ’n ongeluk by die berugte kruispad tussen die Weskuspad (R27) en die Hopefieldpad (R45).

Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n woordvoerder vir die Weskus-polisiedistrik, het die botsing Vrydag (5 April) omstreeks 14:28 gebeur.

Max Keller (71) het volgens ander motoriste wat die ongeluk sien gebeur het, met ’n Volkswagen Polo van Hopefield se kant af die kruispad binnegery en reg voor ’n aankomende Ford Ranger-bakkie beland.

Daar is stoptekens vir motoriste wat die Weskuspad van Vredenburg af en van Hopefield af benader. Die verkeer op die Weskuspad het ryvoorrang uit beide Langebaan en Velddrif se rigting.

’n Ernstig beseerde Max is volgens omstanders in sy vrou, Getrude (68), se arms dood. Getrude is met ernstige beserings per ambulans na die Life Weskus Privaathospitaal geneem.

Die verkeer het vir ’n geruime tyd uit alle rigtings opgehoop terwyl die ongelukstoneel opgeruim is.

Volgens Maryke Pearson, ’n hospitaalwoordvoerder, is Getrude in ’n bestendige toestand en sal sy na verwagting later vandeesweek ontslaan word, waarna sy na Switserland sal terugkeer.

Helfrich sê die bestuurder en sy vrou wat in die bakkie onderweg was, is nie beseer nie.

Deur die jare was daar al baie botsings by dié kruispad en Weskussers pleit al jare onsuksesvol dat verkeersligte aangebring word.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article