Om die sportsterre van die Saldanha Tigers-rugbyklub te vereer, het die span sy jaarlikse bekeruitdeling op Vrydag 29 November in die Diazville-gemeenskapsaal gehou.
Dimitri Jacobs, die voorsitter van Safcol, was die gasspreker vir die aand en die byeenkoms is ook deur ’n afvaardiging van die Agricultural, Food, Fishing and Retail Industry Worker’s Union (Afriwu) bygewoon.
Die 2024-seisoen was vir die klub spreekwoordelik een van ’n eerste en ’n tweede helfte. Die eerste ronde het nie so goed afgeskop nie en aan die einde daarvan was die klub in die agtste plek.
Daar is hard gepraat en dinge het drasties verander.
Borge het aan boord begin kom en aan die einde van die tweede ronde het die klub nege van sy tien wedstryde gewen en gesamentlik in die vierde plek saam met die Koringberg-rugbyklub geëindig. Hierdie was ’n uitsonderlike prestasie.
Die klub het vanjaar in die Boland-Rugbyunie se streekuitdaagkompetisie meegeding.
Spelers wat hier ’n groot verskil gemaak het, was gewis Tiaan “Jam” van Wyk, Vernon “Ai” Losper, Urgen “Diesel” Barends, Ronnie “Sening” Brown, Devril “The Beast” Julius, JR September, Japhton “Speedy” Jacobs, Milani “Mapimpi” Zilani, Lorenzo Potgieter, Rivaldo “Bakkies” Barends, Marco “Skerpskutter” Abrahams en Mickaile Williams.
Die speler wat uitgestaan het en met die groot bekers weggeloop het, was Zilani, wat met die volgende pryse vir sy harde werk deur die jaar beloon is: Spelers se Speler van die Jaar, Sportman van die Jaar en die Beste A-span-agterspeler.
Die volgende spelers het ook toekennings ontvang:
Beste B-spanvoorspeler: Geowaan Martins
Beste B-spanagterspeler: Diego van Wyk
Mees gevorderde B-spanspeler: Jayden Ruiters
Beste A-spanvoorspeler: Vito Tities
Beste A-spanagterspeler: Milani Zilani
Puntebeker: Marco Abrahams
Deurbraakspeler van die Jaar: Juwayne Prins
Mees gedissiplineerde speler: Marquin van Wyk
Junior Sportman van die Jaar: Ryno Williams
Speler van die Jaar: Devril Julius
Sportman van die Jaar: Milani Zilani
Spelers se Speler van die Jaar: Milani Zilani.
Die klub het sy nuwe truie en T-hemde vir 2025 vir die A- en B-spanne op Donderdag 21 November bekendgestel.





