Daniël Smit (58) gaan lewenslank sit vir moord en ander aanklagte.Foto: Eric Ntabazalila


’n Mens mag maar woedend wees as die vrugte waarna jy al vyf maande uitsien om te eet en waarvan jy getrou die boom elke dag water gee, vir die hoeveelste keer uit jou eie tuin gesteel word. Ook as twee tieners jou koggel.

Die rondgaande hooggeregshof in Vredendal het dit Maandag (4 November) egter onomwonde gestel dat Daniël Smit (58) nie die reg gehad het om dié soort woede op Jerobejin van Wyk (13) uit te haal nie – nog minder om hom en sy maat met sy bakkie te jaag, Jerobejin om te ry, hom met beserings agterin sy bakkie te tel, na sy huis te ontvoer en te vermoor nie.

Regter Hayley Slingers het Smit tot lewenslange tronkstraf gevonnis vir poging tot moord, ontvoering, moord met voorbedagte rade, die skending van ’n lyk en regsverydeling. Hy is op Maandag 26 Oktober op al die aanklagte teen hom skuldig bevind.

Die senior staatsadvokaat Louise Friester-Sampson het die staat se saak hanteer en die beskuldigde se pleit van skuldig aan roekelose bestuur en moord sonder voorbedagte rade suksesvol van die hand gewys.

Moord

Volgens Eric Ntabazalila, woordvoerder vir die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het Smit Jerobejin en sy maat op 2 Februarie 2022 in Klawer in sy wit Ford Bantam-bakkie gejaag nadat hulle glo mango’s uit Smit se tuin gesteel het.

Smit het Jerobejin ten aanskoue van ooggetuies naby Niewoudt- en Kerkstraat met sy bakkie raakgery en ’n duidelik beseerde Jerobejin agter in sy bakkie getel en die bakkap gesluit. Hy het Jerobejin by sy huis in Matzikamastraat gedwing om in die motorhuis, waarvan die deur reeds toegemaak was, uit te klim.

Volgens Smit het hy later Jerobejin se nek gebreek op die manier waarop ’n Chinese okkultiese groep in die Kaap hom geleer het. Hy het die lyk vir ure in die vrieskas weggesteek voordat hy sy dogter sonder haar medewete tydens aandete slaappille ingegee het sodat sy vas sou slaap.

Hierna het hy die lyk opgekap en ’n reuse-vuur met teerpale in die vuurherd gemaak. Toe die liggaamsdele nie tot as verbrand nie, het hy dit in dreine en oliedromme op sy werf versteek.

Lt.genl. Thembisile Patekile, die Wes-Kaapse provinsiale kommissaris, het AO Theo Maarman, die ondersoekbeampte in die saak en ’n speurder by die Vredendal-eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe, se uitstekende werk geprys; so ook alle ander mense wat tot die deeglike vonnis bygedra het.

Smit het lewenslange tronkstraf vir moord met voorbedagte rade, vyftien jaar vir poging tot moord, tien jaar vir ontvoering, vyf jaar vir lykskending en drie jaar vir regsverydeling gekry. Die regsverydeling-aanklag spruit uit Smit se leuens aan die polisie om hulle twee dae lank voor sy inhegtenisneming te mislei.

Volgens Ntabazalila sal Smit die vonnisse samelopend uitdien. “Die beskuldigde moet twee derdes van sy vonnis uitdien voordat hy vir parool in aanmerking sal kan kom.”

Slingers het Smit ook onbevoeg verklaar om ingevolge Artikel 103 van die Wet op Vuurwapenbeheer, Wet 60 van 2000, ’n vuurwapen te besit.

Okkulte

Smit het gesê hy het as dertienjarige by ’n Chinese okkultiese groep in die Kaap aangesluit, waar hy geleer is om black magic te doen en mense te “toor”. Hy het later satanisme beoefen waar mense tydens rituele by okkultiese vergaderings gestraf is.

Slingers het egter geen versagtende omstandighede in ag geneem in die vonnisoplegging nie en bevind dat Smit in beheer was tydens die moord en nie deur die okkulte beïnvloed is nie.

Sy het die skokkende brutaliteit en wreedheid waarmee die moord uitgevoer is, benadruk.

Adv. Nicolette Bell, die Wes-Kaapse direkteur van openbare vervolging, het Jerobejin se moord as grusaam en gevoelloos beskryf.

Sy hoop sy familie vind vertroosting in die wete dat die beskuldigde vir ’n lang tydperk tronk toe gestuur is.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article