Hoe kon sy net so spoorloos verdwyn? Dit is die vraag waarop almal in die gemeenskap van Lambertsbaai die antwoord probeer kry.
Die soektog na die 16-jarige Donna-Leigh Don duur nog steeds voort. Dit nadat die tiener, ’n leerder aan die Hoërskool Lambertsbaai, op Sondag 24 Julie vermis geraak het.
Volgens die provinsiale polisiewoordvoerder, kapt. FC van Wyk, het Don van haar huis af verdwyn. “Op die dag van haar verdwyning is dit nie presies seker watter klere sy aangehad het nie. Sy het haar selfoon ook by die huis gelos om te laai,” vertel Van Wyk.
Billy Claasen, uitvoerende direkteur van die Landelike en Plaaswerkers-ontwikkelingsorganisasie en ook ’n woordvoerder van die familie, sê Don se ouers is stukkend en getraumatiseer.
Ná die nuus van haar verdwyning het die gemeenskap dadelik ingespring om haar te soek. Die duikeenheid, honde-eenheid, polisie en helikopters is ingespan om met die soektog te help.
Claasen het aan Weslander gesê Don is ’n stil meisie en sal nie sommer met vreemdelinge meng nie. “Sy het net een beste vriend en dié is ook getraumatiseer. Dit is moeilik om te verstaan,” voeg hy by. Een ding wat Claasen pla, is die gebrek aan polisiehulpbronne wanneer dit kom by dié soektogte en sake van kinders en mense in hul gemeenskappe. “Ons het die reg om volle hulpbronne, net soos ander, te kry.”
Gebede gaan uit na Don en almal hoop en glo dat sy weer veilig huis toe sal keer.
Die Hoërskool Lambertsbaai se beheerliggaam het op die skool se Facebookblad die leerders, familie en die breë gemeenskap bemoedig met Psalm 121. “Ons hulp kom van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Mag God jul bron van krag wees vandag. Ons glo en vertrou dat die Heer se hand van beskerming oor haar is en dat die Heer haar veilig sal terugbesorg aan haar ouers. Wees sterk en vasberade, sê God. Ek is by julle.”
Claasen lê klem daarop dat mense nie vals inligting aan die polisie moet verskaf nie, maar die korrekte feite sodat leidrade ten volle opgevolg kan word. “Die familie is deur genoeg, moenie die ouers valse hoop gee nie.”





