Ben Theron tree op die ouderdom van 65 af.


Longacres Privaatskool groet vandeesmaand sy sportorganiseerder, Ben Theron, wat ná twee jaar by die skool amptelik aftree.

Theron was met sy jare lange kennis in sport die afgelope 22 maande onder meer betrokke by die bevordering van sport, borgskappe vir die aankoop van toerusting en klere, asook bemarking.

Theron sê hy het ’n groot liefde vir kinders en dis wonderlik vir hom om te ervaar hoe hulle hul sport wil beoefen. “Hul wil net geken en in hul kringetjie belangrik wees. Hulle soek ware aandag en lewe daarvoor. Ek gaan baie van hulle gewis mis – hul passie en drome.”

Theron het vantevore die rol as skeidsregterbestuurder vir WP Rugby vertolk en het ook 18 jaar in die polisie gedien.

“My eerste werksdag by WP Rugby in April 1995 was die opening van die Wêreldrugbybeker waar ek ook die persoon wat ek die meeste bewonder, die oudpresident Nelson Mandela, in lewende lywe gesien het. Hy was en sal nog altyd vir my ’n rolmodel van vergifnis, vrede en nasiebou wees. Ek was bevoorreg om met my tydjie by WP baie ander wêreldbekende rugbypersoonlikhede te ontmoet, asook Sir Bobby Charlton en Sir Alex Ferguson, en die mees bekende Pelè. Ek het selfs sy handtekening en ’n foto saam met hom,” vertel Theron.

Volgens Theron was dit een van sy drome om met ’n skoleskeidsregtersprogram in 2010 te kon begin waarby leerders hulself as skeidsregters kon kwalifiseer. Dit was en bly vir hom goed om te sien hoe leerders van 13- en 14-jarige ouderdom die kursus doen en groei tot waar van hulle vandag in toetse, Curriebeker-, Varsity Cup- en eersteliga-klubwedstryde blaas.

“Ek was nooit ’n opgeleide onderwyser nie. Dit was wel ’n droom om onderwys te gee, maar as gevolg van omstandighede kon ek nie. Ek het jare katkisasie gegee om sodoende by kinders betrokke te wees. Die laaste twee jaar ná my aftrede by WP Rugby en deur my betrokkenheid by Longacres kon ek my droom uitleef.”

Met sy amptelike aftrede, sê Theron, het hy en sy vrou albei die begeerte en drome om die mooi land met ’n woonwa agter hul motor plat te ry. “Ons is baie bevoorreg om so ’n mooi land te kan hê waar buitelanders duisende rande betaal om dit te kan besoek. Dan het ons nog van die mooiste buurlande in Botswana, Namibia ensovoorts.”

Theron bedank graag die eienaars van Longacres Privaatskool, Johan en Petri Oettle, asook die skoolhoof, Edmund Barkhuysen, vir die wonderlike geleentheid wat hulle by die skool aan hom gebied het.

“Ook aan die personeel en leerders – julle was en is wonderlik.”

Theron moedig die leerders aan om hul drome ten volle uit te leef.

“As jou drome nie vir jou nagmerries gee nie, is hulle nie groot genoeg nie!”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 12 March 2026
    Weslander E-Edition – 12 March 2026

Gift this article