Alle gevestigde en opkomende skrywers word genooi om hul idees en tekste vir die sewende Teksmark, van Maandag 22 tot Saterdag 27 Augustus, by die Baxterteater in Kaapstad in te skryf.
Hugo Theart, artistieke direkteur van die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK), sê goeie teater begin by ’n goeie teks en ’n goeie teks begin by ’n goeie idee wat aanklank by die tye vind. “Met Teksmark kan skrywers eers hul idees voorlê en vandaar kan ’n skryfproses begin. Baie tekste is reeds met reuse-sukses uit die projek ontwikkel, asook tekste wat oor die langtermyn ontwikkel word. Ek is opgewonde om te sien wat skrywers hierdie jaar voorlê. Ons skrywers is toonaangewend in die tye waarin ons leef,” vertel hy.
Teksmark is ’n projek van die KKNK, in samewerking met die Nasionale Afrikaanse Teaterinisiatief (NATi) en die Baxterteater, waar idees en tekste met belangstellendes in die bedryf gedeel word vir moontlike verdere ontwikkeling.
Theart sê verder dat talle tekste, wat sedert die ontstaan van dié projek by Teksmark voorgelê is, reeds met pryse en benoemings bekroon is. “Tien Teksmark-tekste is tot volwaardige produksies ontwikkel, sommiges is gepubliseer en die jongste suksesverhale uit dié projek is Karatara en Agulhasvlakte, wat in 2019 tydens Teksmark voorgelê is en vanjaar hul buiging by die KKNK gemaak het. Karatara is met die Kanna as beste debuutwerk bekroon.” Die halwe huis is nog ’n voorstel wat aan Teksmark voorgelê is en ’n uittreksel is by die Oudtshoorn-Teksmark in 2021 aangebied, waarna dit verder ontwikkel is en by vanjaar se KKNK op die planke was.
Teks-idees word in alle genres oorweeg, maar veral komedie, satiriese tekste en tekste gemik op kinders en jong volwassenes word aangemoedig. Só ook word voorstelle in alle amptelike Suid-Afrikaanse tale oorweeg en veeltalige produksies word aangemoedig. Slegs tekste deur Suid-Afrikaanse burgers wat nog nooit voorheen professioneel opgevoer is nie, word oorweeg.
Cornelia Faasen, uitvoerende hoof van NATi, sê Teksmark het die afgelope twee jaar ’n soort troos vir die bedryf in ’n droewige tyd van bykans geen regstreekse teater geword en die jongste Teksmark keer terug na die oorspronklike wortels van dié projek.
“Noudat ons weet ons kan weer teater maak, het ons skrywers en tekste met nuwe, vars idees en aanslae nodig. Die wêreld het die afgelope twee jaar so baie verander. Ons skrywers moet ons help om sin hiervan te maak en ons herinner die teater en die verhoog is dié plek waar ons met idees kan speel en eksperimenteer. Daarom wil ons skrywers uitdaag om die geleentheid aan te gryp, ons te kom verras, vermaak en bowenal te laat dink, soos dit goeie teater betaam,” sê sy. Volgens Lara Foot, uitvoerende hoof en artistieke direkteur van die Baxterteater, behou die kunste en storievertel hul betekenisvolle doel “om ons samelewing en gemeenskappe te genees namate ons voortbeur in die stryd teen die Covid-19-pandemie en inperking” – met veerkragtigheid en relevantheid, nou meer as ooit.
“Teksmark, nou in sy sewende jaar, se groei is bemoedigend vir die bedryf en spesifiek vir kunstenaars. Dit is vir my verblydend om vanjaar die span, die kunstenaars en die gaste by die Baxter vir Teksmark 2022 te verwelkom.”
Die proses werk só: Skrywers bied tydens Teksmark ’n voorlegging oor hul idee aan, gevolg deur ’n uittreksel wat as leesteater aangebied word, waarna ’n gesprek met insette van die rolspelers en gehoor volg. Hierdie gehoor sluit genooide teater- en feesverteenwoordigers, sowel as moontlike beleggers en vervaardigers in.
Net beperkte tydgleuwe is egter beskikbaar, daarom kies ’n onafhanklike paneel slegs ’n sekere aantal tekste. Professionele regisseurs en akteurs word in oorleg met die skrywer aangestel om uittreksels op te voer.
Uittreksels uit tekste deur skrywers in die Jong Sterre-projek (’n projek van NATi, die Jakes Gerwel-stigting en die Suidoosterfees) word weer vanjaar by Teksmark ingesluit; só ook tekste van die Premièrefees van die Universiteit Stellenbosch se dramadepartement, en teks-idees uit Tekstmark (’n internasionale samewerkingsprojek met Nederland).
’n Volledige lys riglyne vir voorstelle is op die KKNK se webblad by www.kknk.co.za/teksmark beskikbaar, waar voorstelle met ’n maklike elektroniese vorm ingedien kan word.
Die sluitingsdatum vir voorstelle is Maandag 27 Junie om middernag.
Vir navrae kontak Lizané Basson by 044 203 8600 of stuur e-pos na teksmark@kunste.org.za.



