Tien tekste is na afloop van die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) se sewende Teksmark vir verdere ontwikkeling geïdentifiseer.
Teksmark is van Woensdag 24 tot Vrydag 26 Augustus by die Baxterteater in Kaapstad aangebied.
Altesaam 22 skrywers het hul teks-idees voorgelê en 90 akteurs en regisseurs het deelgeneem om uittreksels uit elk van die tekste as leesteater aan te bied.
Hugo Theart, artistieke direkteur van die KKNK, sê skrywersbeurse van R150 000 – deur die Nasionale Afrikaanse Teaterinisiatief (NATi) en die KKNK gefinansier – is vir agt tekste toegeken.
“ ’n Projek soos Teksmark is nie moontlik sonder ondersteuning van vennote soos NATi en die Baxterteater asook ander ontwikkelingsvennote, waaronder feeste, teaters, The Playwright’s Laboratory, Suidoosterfees, die Jakes Gerwel Stigting en die Het Jan Marais Nationale Fonds nie. Ons bedank hulle opreg vir hul ondersteuning en samewerking.”
Ses tekste wat by die 2022-Teksmark voorgelê is, is vir verdere ontwikkeling gekies. Mikayla Joy Brown se Jantjies and the Pearls ontvang ’n speelvak by die KKNK en die Suidoosterfees in 2023.
Skrywersbeurse om tekste te voltooi is vir vyf tekste toegestaan: Philip Theron vir Babilon, Babilon, Henriëtta Gryffenberg en Alby Michaels vir 1, Wessel Pretorius vir Kamermusiek, Anele Kose vir Mhla ndiqala idibana naye en Louw Venter vir Albatros.
Vier tekste uit Teksmark 2021 is vir verdere ontwikkeling gekies. Marí Borstlap ontvang ’n skrywersbeurs om haar teks Koning van die Diereriem te voltooi. Nisa Smit ontvang ’n beurs om haar teks Nipped in the butt in Afrikaans te vertaal, sowel as Michaela Weir vir haar teks What happens in Russia. Philip Theron se Die kontemporêre kuns komplot word deur The Playwright’s Laboratory (TPL) as vollengte leesteater opgeneem. TPL is ’n aanlyn platform vir skrywers om hul werk vir ’n internasionale gehoor aan te bied. . Alle sessies van vanjaar se Teksmark is op die KKNK se webblad by kknk.co.za te sien.




