Nie net is sy goed met ’n potlood in die hand nie, maar ook vaardig op die rugbyveld. Ziané Muller, ’n inwoner van Velddrif, is ’n toonbeeld van veelsydigheid.
Wanneer dié 22-jarige eers met haar potlood begin skets, laat sy enige kunswerk soos die werklikheid lyk.
Die kreatiewe gogga het haar op laerskool al beetgekry. Ziané verduidelik dat sy nog altyd ’n kind was wat redelik in haar eie wêreld gelewe het. “Ek dink ook omdat ek so gedroom het, was ek altyd besig om my karakters of stories gedurende klastyd te teken en dan gedurende pouse uit te leef,” vertel sy senuweeagtig. Namate sy ouer geword het, het Ziané se wêreld begin uitbrei. Sy het effens gesukkel om haar gevoelens te oor te dra en haarself uit te druk, maar kuns was haar uitlaatklep.
“Ek het na nuwe perspektiewe gesoek en toe begin om mense te teken, waarvan my heel eerste Angelina Jolie was, en my ouers my talent raakgesien het. So ek het maar oor die jare uit my foute geleer – trial and error – en net beter begin raak. Ek kon sien die mooi wat my kuns in my samelewing begin bring het. As mense na my kuns kyk, is dit asof hulle stil raak in hierdie vinnige wêreld en terugkeer na menslikheid. Dus het ek my identiteit aan my kuns geheg en voel verantwoordelik om daardie rustigheid en perspektief vir mense te bring,” vertel sy.
Hoewel Ziané mense geteken het, het sy ook met diere begin eksperimenteer. Sy is gewis nie iemand wat vir nuwe uitdagings skrik nie. “Rugby is ook nou een van my groot liefdes, en ek hou nogal daarvan om die spelers te teken – spesifiek die Springbok-vroue, maar net omdat ek hulle op so ’n manier kan ondersteun en dan die geleentheid kry om hulle te ontmoet en persoonlik die skets vir hulle te gee.”
Hoe laat Ziané haar sketse so realisties lyk? Sy sê ’n mens moenie bang wees vir die donkerte nie. Sy verduidelik verder om meer donkerte in ’n skets te bring, gee meer diepte, en dan, om baie wit in te bring waar die lig die meeste val, bring uiteindelik die driedimensionele en realistiese effek.
Sy maak ook gebruik van ’n ingenieurspen en ’n Tombow Mono Eraser om haar lyne te trek, sowel as ’n klein verfkwassie, wat sy vir vermenging gebruik en die skets ’n sagter effek gee.
Ziané het vanjaar die geleentheid gekry om BA (visuele kuns) aan die Universiteit Stellenbosch te studeer. “Dit sou nie ’n werklikheid kon wees sonder die ondersteuning van my familie en vriende nie. Ek is ook ’n groot gelowige en dus gee ek die grootste krediet aan die Een daar bo.”
Vir Ziané is die studentelewe verskriklik vol geleenthede, maar dit het ook sy uitdagings. “Dus is dit belangrik om seker te maak dat jy deel is van ’n goeie ondersteuningstelsel of gemeenskap en dat jy die regte waardes aanneem om jou deur daardie tye te lei. Ek kan met gemak sê ek is in goeie hande, aangesien die waardes wat ek by Maties-vrouerugby geleer het, begin vrugte afwerp.”
Ziané het in 2022 by die Maties-vrouerugbyspan aangesluit en speel flank. Sy kyk op na haar afrigters, Johan Zyer en Bianca Augustyn, en geniet elke oomblik van sweet, pyn en lag saam met die span.
Sy wil graag eendag ’n professionele rugbyspeler vir die vroue-7’s- Springbokspan word, maar kuns en ontwerp is ook ’n opsie.
Sy lê weer klem daarop dat dit vir haar baie belangrik is dat mense positief beïnvloed word deur haar kuns en dat dit stilte en perspektief bring.
“Van my kunsstukke het ’n storie. Elke storie lewer ’n diep betekenis en boodskap; enigiemand kan dit op sy eie manier neem en interpreteer en dit sy eie maak.”. As jy enige sketse wil bestel, bel Ziané by 064 938 8984.





